IN DIE SKOENE VAN ‘N MAATSKAPLIKE WERKER

Suid Afrika is ‘n land van melk en heuning, maar ook ‘n land waar uitdagings en triomfe hand aan hand stap. In hierdie land stap maatskaplike werkers daagliks deur strate in gemeenskappe wat seer ervaar en poog om hoop te bring, verandering te skep en ondersteuning te bied. Maatskaplike werkers het kennis en vaardighede om te deel en daar is ook toegewyde maatskaplike werkers wat daarop ingestel is om verandering en verbetering te help bewerkstellig, daar waar dit die nodigste is.

Natuurlik het maatskaplike werk ook sy uitdagings. Armoede, ongelykheid, mishandeling en ‘n toename in misdaad is maar van die uitdagings wat gemeenskappe in die gesig staar. Maatskaplike werkers moet poog om hierdie uitdagings te help beveg ten spyte van baie kritiek van die publiek.

Gesinsintervensie is een van die sleutelareas van maatskaplike werk. Daar word gepoog om saam met gesinne deur moeilike tye te stap om emosionele ondersteuning te bied en leiding te gee. Maatskaplike werkers kan ‘n brug wees tussen hulpbronne en dié wat hulp nodig het. Gesinsintervensie behels gebroke gesinne waar mishandeling en verwaarlosing soms voorkom, mense wat foute gemaak het maar tog ook moed het en vasberade probeer om ‘n beter môre te skep.

Die beskerming van kwesbare groepe is ‘n prioriteit. Maatskaplike werkers poog om ‘n stem te wees vir dié wat nie hul eie stem het nie. Daarom is die skep van bewusmaking van hoe belangrik dit is om enige vorm van mishandeling of verwaarlosing van die kwesbare groepe aan te meld ‘n belangrike deel van elke maatskaplike werker se werk. Ingeligte gemeenskappe maak maatskaplike werkers se hande sterker.

Nie almal se beeld van ‘n maatskaplike werker is altyd goed nie. Dit is verstaanbaar, want wanneer daar met trauma, misbruik en foute gewerk word, is daar verskillende emosies betrokke en stem mense nie noodwendig saam nie. Dit is ook belangrik om te onthou dat die meeste maatskaplike werkers poog om in die beste belang van die kind of ander kwesbare persoon op te tree soos die wet vereis.

Op 19 Maart is Internasionale Maatskaplikewerkersdag. Maatskaplike werkers is dikwels ongesiene helde wat agter die skerms werk om ‘n daadwerklike verskil te maak in die lewens van individue en gemeenskappe. Dit is ‘n roeping wat nie altyd met groot lof kom nie, maar een wat die moeite werd is vir dié wat ‘n verskil wil maak. ‘n Dag in die skoene van ‘n maatskaplike werker is ‘n reis van empatie, sorg, bemoediging, ondersteuning en die hoop om ‘n positiewe verskil te maak in die lewens van ander.