Jagters plaas armoede in visier

Sowat 300 jagliefhebbers van Gauteng en Limpopo het die afgelope naweek hul harte en beursies oopgemaak vir Solidariteit Helpende Hand se #HelpJag-veldtog. Dié veldtog poog om armoede en honger hok te slaan.

Volgens Margolé Riekert, Solidariteit Helpende Hand se koördineerder van #HelpJag, is nagenoeg R200 000 is verlede Vrydagaand tydens die #GaanBos-galageleentheid, ʼn eerste van sy soort, ten bate van #HelpJag ingesamel.

“Die gala-aand was die hoogtepunt van die afgelope naweek se gewilde Wild-, Jag- en Agri-ekspo wat by Castle de Wildt in Modimolle gehou is,” het Riekert in ʼn mediaverklaring gesê.

Bekendes soos Bakkies Botha en Adam Tas het saam met twee beroepsjagters, Jaco Kruger en Riaan Botha, aan ’n paneelgesprek deelgeneem en hul jagstaaltjies met die gaste gedeel. Tas en Verona Goslett van The Voice-faam het die gaste vermaak terwyl Hamilton Wessels as seremoniemeester opgetree het.

Tas het ook meer verklap oor ʼn nuwe televisiereeks, Byt en buskruit, wat hy binnekort saam met bekende gaste gaan opneem. Die reeks bestaan uit 13 episodes en beloof eindelose vermaak aan enige persoon wat van jag, visvang en avontuur hou.

Volgens Riekert is daar ook ʼn gelukkige trekking en ʼn veiling aangebied. “Een van die kunstenaars, Natalie Sutton, se gewilde Kobok-kunswerke is opgeveil en het ʼn bedrag van R40 000 gehaal,” het sy gesê.

Die Professional Hunter’s Association of South Africa (Phasa) se Conservation and Empowerment Fund het ook tydens die geleentheid ʼn ruim skenking van R50 000 aan #HelpJag gemaak.

Riekert het verduidelik dat #HelpJag saam met Helpende Hand se Kosblikkie-projek ook wildsvleis aan 6550 behoeftige kinders in 83 kleuterskole landswyd versprei.

Jagliefhebbers by die geleentheid.

“Vleispryse het só gestyg dat daar nie altyd geld vir ʼn gesonde bord kos, met vleis as deel van die spyskaart, is nie. Dit het vir ons duidelik geword dat daar baie jagters is wat graag ʼn bydrae wil lewer deur die vleis van ʼn bok wat hulle gejag het te skenk om ʼn behoeftige Afrikaner-kind se lewe makliker te maak,” het Riekert gesê.

“Vir baie van die kleuters is hierdie bord kos die enigste kos wat hulle daardie dag sal kry. Daarom is dit van kardinale belang dat hierdie bord kos voedsaam is. Die aanwesigheid van ’n hoë-proteïen dieet, soos wildsvleis, verbeter die kleuter se kanse om gesond te ontwikkel en dra by tot verhoogde konsentrasie en prestasie op skool,” het sy bygevoeg.

Om by #HelpJag betrokke te raak, SMS die woord JAG na 39950. SMS’e kos R2. Vir meer inligting, besoek www.helpjag.co.za.