Jou ware skoonheid kom van binne. Wees trots op wie jy is!

René Roux

Bestuurshoof: Media Solidariteit Helpende Hand

“Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde.” 1 Petrus 3:3-4

Die stryd om jou eie identiteit te bepaal, is iets waarmee party meisies bly sukkel, selfs tot hulle al groot vroue is. Dit is altyd ander se opinies wat ‘n mens laat twyfel wie jy eintlik is en soms pas jy ook aan by daardie opinies. Jy is een mens by die skool en ‘n ander by die huis, nog een by die kerk en weer ‘n ander tussen jou vriendinne. Hoe meer jy jou aan ander se opinies steur, hoe moeiliker raak dit vir jou om werklik te besef wie jy nou eintlik is.

As jong meisie het ek baie foute gemaak. Ek het soms mense met my woorde seergemaak en baie getwyfel oor myself en my skoonheid – nie net skoonheid na buite nie maar ook na binne. ‘n Mens hoor gereeld die vraag: “As jy nou iets vir jou 16-jarige self kon sê, wat sou dit wees?” Ek sou definitief by my jonger self gepleit het om myself meer lief te hê en die waarde in my te probeer raaksien wat Jesus in my sien.

Dit is maklik om te sê ware skoonheid kom van binne, veral vir meisies of vroue wat werklik heel voor in die ry gestaan het toe skoonheid uitgedeel is. Party meisies het die mooiste hare, ander weer die mooiste sproete. Party meisies is geseënd met sportiewe bene en ander weer met ‘n sagte vel sonder enige vlekke. Toe ek jonk was, het ek dikwels hardop gedink ja, vir jou, mooie meisie, is dit maklik om dit te sê, want jy is beeldskoon. Maar soos ek ouer geword het, het ek besef skoonheid vergaan werklik. En as jy net op uiterlike skoonheid staatmaak en nie hard werk om van binne af mooi te wees nie, dan bly daar net ‘n leë, betekenislose dop agter.

Ek wil hê jy moet weet jou innerlike skoonheid is die grootste skat wat jy ooit kan besit.

Innerlike skoonheid gaan oor jou hart, jou gedagtes en jou siel. Dit gaan oor wie jy regtig van binne is. Dit is jou karakter, hoe jy ander mense behandel en hoe jy kies om behandel te word. Jou deernis, liefde, vriendelikheid, respek vir ander, en die manier waarop jy goedhartigheid uitstraal, maak jou mooi van binne. Dit is die soort skoonheid wat blywend is, waaroor boeke en liedjies geskryf word.

Waarom is innerlike skoonheid belangrik?

  1. Dit is duursaam. Uiterlike skoonheid verander mettertyd, maar jou innerlike skoonheid groei en blom soos jy deur die lewe gaan. Hoe meer jy op jou innerlike skoonheid fokus, hoe mooier sal jy van binne en buite wees.
  1. Dit raak ander. Mense onthou hoe jy hulle laat voel het. As jy liefde en vriendelikheid uitstraal, sal ander mense dit onthou en waardeer. Jou positiewe invloed kan mense se lewens verander.
  1. Dit gee jou selfvertroue. As jy trots is op wie jy in jou hart is, straal jy selfvertroue uit. Jy het nie nodig om ander mense se goedkeuring te soek nie, want jy weet jy is waardevol en spesiaal net soos jy is.

Hoe kan jy innerlike skoonheid kweek?

  1. Wees vriendelik. Vriendelikheid kos niks en dit maak ‘n groot verskil. Doen klein dade van goedhartigheid; help iemand in nood of sê iets moois vir iemand.
  1. Leef met integriteit. Doen altyd die regte ding, selfs al kyk niemand nie. Wees eerlik, betroubaar, en hou jou beloftes.
  1. Wees dankbaar. Fokus op die dinge waarvoor jy dankbaar is. Dankbaarheid help jou om positief te bly en jou lewe te waardeer.
  1. Wees liefdevol teenoor jouself. Behandel jouself met liefde en respek. Vergewe jouself vir jou foute en wees geduldig met jou eie groei- en leerproses.
  1. Streef daarna om te groei. Werk daaraan om elke dag ‘n beter weergawe van jouself te wees. Leer nuwe dinge, stel doelwitte, en werk hard om dit te bereik.

Jy is uniek en spesiaal net soos jy is. My ma het altyd vir my gesing: “Want jy’s kosbaar en spesiaal vir Hom.” Dit is woorde waaraan ek my hele lewe vasgeklou het. Ek is kosbaar en spesiaal vir Jesus, maak nie saak wat met my uiterlike skoonheid gebeur nie.

Daar is niemand anders in die wêreld soos jy nie, en dit maak jou kosbaar. Wees trots op jou innerlike skoonheid en laat dit skyn vir die wêreld om te sien. Onthou dat die mense wat werklik vir jou omgee jou sal liefhê vir wie jy in jou hart is, nie vir hoe jy lyk nie. Moenie toelaat dat die wêreld jou vertel dat jy nie goed genoeg is nie. Jy is meer as genoeg. Jy is sterk, moedig en pragtig van binne. Staan op en wees trots op wie jy is. Jou ware skoonheid kom van binne, en dit is wat werklik tel.