Liewe Leser

Brief 45

Ek het ‘n rukkie terug ons familiebegraafplaas besoek en na ons generasies se grafstene gaan kyk. Van die datums strek terug tot  die 1800’s. Heelwat kindergrafte. Báie seer.

My ouma het seker gemaak dat ons van kindsbeen af weet waar die plaas is en waar sy bly. As kind was dit soms frustrerend om die posadres en die name van elke landmerk jaarliks agter haar aan te sê, maar op haar eie manier was dit vir haar belangrik dat ons weet waar ons vandaan kom en dat ons óók hier hoort -selfs al sit ons ver. 

Op die plaas ervaar ons dikwels vier seisoene in ‘n dag. Ten spyte daarvan was my ouma se laaste dag op die plaas klokhelder en asembenemend mooi. Elke blaar, spinnerak, blom en voëlnes was in sy plek. Daar was orde. Ons het haar in haar stootwaentjie versigtig uit die huis gestoot en vir haar kans gegee om vir oulaas na haar wêreld te kyk voordat sy terugkeer ouetehuis toe. As iemand wat áltyd opknappingswerk op die plaas raakgesien het, het sy haar kop vir die eerste keer goedkeurend geknik en die woorde uit Genesis aangehaal: “Dit is goed.” Só asof haar aardse werk afgehandel is.

In die tyd van haar afsterwe het ons een van die grootste droogtes nóg hier beleef. Elke blaar was roesbruin, die waterbronne was leeg, melkkoeie was maer en haar foonoproepe het opgedroog. Dis duidelik dat die natuur saam met ons na haar verlang het. Mettertyd het die damme heelwat druppels bygekry en het die plante weer begin blom. Soetseer, maar daar was lewe.

Gewoonlik spandeer ek oujaarsaand saam met my gesin in die huis wat my oupa gebou het. Maar 2023 het ’n bietjie anders uitgedraai en ek het op oujaarsaand alleen in Pretoria bevind. Selfs al was ek alleen, was ek nie bang nie. Dis te danke aan my ouers en grootouers dat ek weet waar ek vandaan kom en dat ek weet ek is waar ek moet wees. Alles het ‘n plek en dit is goed. Die jaar 2023 het sy plek gehad. Mag ons in 2024 onthou waar ons hoort.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5