Liewe Leser

Brief 48

Een van my gunstelingdigters, C.J. Langenhoven, het geskryf: “Beleefdheid is die hoedanigheid van hart wat die stukkende hekkie nie raak sien nie en die aandag vestig op die blomme in die tuin.”

Dit laat my terugdink aan een van my goeie herinneringe aan ons huis:

Ons huisgesin het sowat ’n jaar en ’n paar maande terug ’n nuwe hondjie aangeneem. Sy naam is Buks. Deur sy gedrag en sy vriendelike persoonlikheid het sy naam ook nou ’n slagspreuk geword: “Buks of niks!” Die bondeltjie energie waag soms kanse, maar ken ook sy perke. Dis maklik om vir hom lief te word, want wie jy is, is vir hom meer as genoeg.

In die tyd wat ons hom gekry het, het ek vir ’n rukkie by my ouers gebly om te herstel van een van die klappe wat die lewe so gretig was om uit te deel. Oorbewus van die wete hoe swaar dit met my gaan, was ek dankbaar dat ek in ’n veilige hawe kon herstel en my aandag op iets vestig wat my vir ’n klein rukkie nodig gehad het.

Buks het maklik by ons aangepas, want al wat hy wou hê, was ’n klein bietjie liefde en aandag. Ek het in daardie tyd nie baie gehad om vir hom aan te bied nie, maar twee dinge kon ek gelukkig in ’n oormaat vir hom gee: liefde en aandag. Mettertyd het ek hom geleer hoe om in die tuin te speel en stelselmatig het ek self begin herstel. Ons het mekaar nodig gehad, maar as ek eerlik moet wees, het ek hom in daardie tyd miskien nodiger gehad as wat hy my gehad het.

Soms voel ons eensaam juis omdat die afwesigheid van liefde so volop is. Ironies genoeg vind die liefde ons op die mees onverwagse tye en het ons die keuse of ons dit wil inlaat of nie. Dit help om iemand te hê wat jou aanvaar vir wie jy is, selfs al gaan dit hoe swaar. As ons mooi daaraan dink, doen Solidariteit Helpende Hand dit ook. Ons bou en ons maak die stukkende hekkies reg, maar belangriker nog: Ons groei en floreer op die gawes en waardes wat ons elkeen het. Mag ons weer heel word en uiteindelik leer hoe om onvoorwaardelik lief te hê.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5