Liewe Leser

Brief 50

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat daar 50 briewe in jou digitale posbus is nie. Ek het mooi gedink oor wat ek in ons 50ste brief wil skryf.

Seth Godin skryf: Kinderlikheid laat jou toe om met nuwe oë na die wêreld te kyk en daaroor te wonder. Om kinderagtig te wees, is egter om te leef asof daar geen nagevolge vir jou keuses gaan wees nie. Ek hou van hoe hy dink.

Daar kan baie dinge in 50 weke gebeur, liewe Leser, daarom het ek dit goed gedink om 10 lewenslesse met jou te deel wat ek in hierdie 50 weke geleer het. Miskien beteken dit vir jou ook iets.  

  1. Job se geduld
    Laat mense toe om hul grappies te herhaal. Die eerste keer vertel hulle ‘n grappie sodat jy saam met hulle kan lag. Die tweede keer vertel hulle dieselfde grappie om jou daaraan te herinner hoe lekker húlle daarvoor gelag het.
  2. ‘n Huis se mure kan baie stories vertel, maar het jy al ooit gedink wat jou kar van jou kan sê?
  3. Of mense nou ‘n les of ‘n goeie herinnering is, hulle bly vir jou geleen.
  4. Kinders is slimmer as wat jy dink. Hulle wéét ook meer as wat jy dink.
  5. Wat ou nuus is vir jou, mag dalk nuwe nuus vir ander wees. Laat elkeen toe om hulle emosies op hulle eie tyd te verwerk.
  6. Die waarheid sal áltyd seëvier. Gee dit kans.
  7. Praat mooi met jouself -veral op die dae waar jy alles behalwe mooi voel.
  8. Die mense wat graag wil hê dat jy in die lewe moet wen, sal jou help om te wen.
  9. Die woorde wat jy vandag gebruik, kan môre se vrede beïnvloed.
  10. Selfs al is daar mense wat jou oor jouself gaan laat wonder, sal daar altyd iemand wees wat jou bewonder.

Mag ons aanhou briewe skryf en floreer op dit wat ons geleer het.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5