#LieweLeser

Ek het grootgeword met ’n posbus voor ons huis waarin ons gereeld briewe en rekeninge ontvang het. In daardie dae was selfone en sosiale media irrelevant. Adresse is in die skrywer se herkenbare handskrif op koeverte neergepen. Vir ’n skrywer om ‘n brief te kon stuur, was dit ’n vereiste om ’n posseël te koop en op die  hoek van die koevert te plak. Die poskantoor se goedgekeurde stempel is dan netjies daarop afgedruk.

In ’n wêreld waar posseëls eens op ’n tyd volop was, word dit vandag soos ou muntstukke deur versamelaars versamel. Interessant genoeg het die verkoop van posseëls ook ’n groot impak op die oprigting van die Voortrekkermonument gehad. Sedert 1933 is verskillende stelle posseëls uitgebring.

Teen die tyd wat die Voortrekkermonument ingewy is, is ’n stel van drie posseëls vrygestel wat deur die skilder, WH Coetzer, ontwerp is. Op 16 Desember 1949 is die baken van hoop amptelik ingewy. Hoe mooi is dit nie om die groot invloed te sien wat die konstante verkoop en gebruik van posseëls op die bou van die Voortrekkermonument gehad het nie.

Alhoewel ons nie meer posseëls nodig het om ’n boodskap binne sekondes aan te stuur nie, onderskat ons steeds die impak van klein dingetjies in die lewe. Soms voel ons klein omdat ons ons waarde onderskat en vergeet ons dat ons deel van die groter prentjie is. Dis belangrik om te weet waar ons vandaan kom, maar dis ook belangrik om te weet dat ons met ons waardes ’n monumentale verskil kan maak. Mag ons nie vergeet waar ons vandaan kom nie en mag ons onthou wie ons is.

Hilde