Banner

Hoofborg

Ander borge

Liefde in Gestremdheid mediavennoot

Solidariteit Helpende Hand het in 2021 die SING, HOOP, WEERKLINK-konsert aangebied vir persone met gestremdhede. Die geleentheid was ’n groot sukses met meer as 700 konsertgangers.

Ons is trots daarop om bekend te maak dat ons weer in 2022 ’n konsert gaan hou vir persone met gestremdhede. Hierdie jaar word dit die LIG-konsert genoem. LIG staan vir Liefde In Gestremdheid. Daar is besluit om die naam van die konsert te verander en dit dan so in die gemeenskap se gedagtes te vestig vir nog baie jare vorentoe. Die rede vir die naamsverandering na LIG-konsert is om dit in ooreenstemming te bring met die LIG-studiefonds wat by verlede jaar se konsert gestig is. Hierdie studiefonds is juis gestig om persone met gestremdhede die geleentheid te gee om in verskeie velde te gaan studeer en ’n blywende bydrae in die gemeenskap te maak.

Kunstenaars wat gaan optree is die immer gewilde Ruhan du Toit, Mathys Roets, Vernon Barnard en Drihan du Plessis.

Hierdie konsert saai hoop. Dis ’n simboliese tree van hoop wat persone met gestremdhede gee en hardop sê: As ek kan, kan jy ook; daar is Liefde In Gestremdheid.

Ons wil jou graag uitnooi om saam met ons ’n verskil te maak deur die LIG-konsert wat op 3 September 2022 by Sol-Tech se Monumentpark-kampus gehou word, te borg.

Die doel van die konsert is drieledig. Eerstens wil ons persone met gestremdhede help om hulle stem te laat hoor. Tweedens wil ons fondse insamel vir aksies en projekte wat werklik ’n volhoubare verskil kan maak in hulle lewens. En derdens wil ons fondse insamel vir die LIG-studiefonds sodat ons persone met gestremdhede die geleentheid kan gee om ook te gaan studeer.

Ons nooi jou graag uit: Kom woon die LIG-konsert by en raak deel van Liefde In Gestremdheid.

Indien jy nie die vertoning kan bywoon nie maar steeds ’n bydrae wil maak, SMS die woord LIG na 45763 en ons sal jou skakel en vertel hoe jy ’n volhoubare verskil in hierdie gemeenskap kan maak.

Kunstenaars:

Artboard 1

Prop

Artboard 2

Monique Steyn (SM)

Artboard 3

Mathys Roets

Artboard 4

Ruhan du Toit

Artboard 5

Vernon Barnard

Artboard 6

Erik Holm (SM)

Op 9 Julie 2021 droom ek dat ek in ʼn kerk sit. Langs my staan en sing die jongste van my pa se vyf broers, oom Marthinus, die volgende: “Groen vars gras, hier staan ons alleen”.

Die droom voel so werklik soos ʼn oggend bries. Ek kyk rond in die kerk en soek die res van die mense uit my jeugjare. Almal sit daar. Waar is my nefies se pa, oom Herman, wonder ek … My ore en oë soek rond tussen mense wat vreugdevol sing, uit volle bors, sonder kommer. My siel word gelei na die preekstoel waar oom Herman sing …

“Dan sal ons hoor hoe Loftus Versfeld weerklink …”, sing hy vreugdevol en uit volle bors.

Ek skrik wakker en besef dit was ʼn droom. Die horlosie sê 05:00. Die waarheid van die beeld wil ek nie erken nie. My oom was op daardie stadium, nes baie mense in ons land, in die hospitaal weens covid-19. Ons het hoopvol gebly. Ek het weer aan die slaap geraak, in ʼn waan, in ʼn droom. 

Om 07:30 bel my ma my wakker … Oom Herman is daardie oggend om 04:45 oorlede … 

My hart het gebreek vir elkeen wat ek in daardie kerk in my droom gesien het. 

Die toeval het my vir ʼn uur lank onkant gevang … Het God opsetlik die droom na my kant toe gestuur, of was dit dalk oom Herman self …? Dit kan seker ook my onderbewuste wees wat deur die nag met die moontlikheid van my oom se afsterwe geworstel het. Jy mag glo wat jy wil, ek mag glo wat ek wil … Wat ons doen met die goed wat ons glo, is ʼn ander saak. Wat ék wil glo, is dat die droom aan my gestuur was met ʼn groter doel. 

Ek het opgestaan en besluit ek moet iets doen. Ja, daar is ʼn tyd vir treur, en ons moet hartseer wees, maar soveel mense in ons land was die afgelope tyd al aangeraak. Soveel mense sukkel om weer ná ʼn terugslag aan te pas. Wat kan ék doen om hulle te help besef dat hulle weer sal opstaan? het ek gewonder. Ek het opgestaan en gedoen wat ek weet ek goed kan doen: musiek skryf. 

Ek het my hart op papier en in melodie uitgestort, nie in die vorm van ʼn treurmare nie, maar in die vorm van ʼn hooplied.

Ek het gesing, gesing dat dit weerklink. Soos in daardie droom, vreugdevol. Ek het geskryf en geskryf, gesing, gehoop. Die beelde én simbale én trompette het in my kop soos ʼn duisend engele weerklink. Ek het gehoop, gesing, geweet die woorde sal êrens weerklink. 

Toe ek die lied klaar geskryf het, het ek eers ʼn vriend gebel en my verlies en vreemde blydskap met hom gedeel. Daarna het iets my gely om meer te doen. Die boodskap moes net vlerke kry. Ons mense het genoeg gely. Genoeg keer geval en weer opgestaan. Genoeg keer vergeet dat ons weet hoe om op te staan. Ek het besluit om vir Helpende hand te bel … Ek het my droom aan die uitvoerende direkteur, Hannes Noëth, verduidelik. Twee weke later het ons in ʼn kantoor gesit en saam besluit: Ons moet die hoop verpak en aan ons mense bring. Ons het besef dat opstaan en aanpas ná verlies vir baie mense baie moeilik is. Ons het ook besef dat ek, as ʼn persoon met ʼn gestremdheid, geleer het om vinniger aan te pas, want mense met gestremdhede, hetsy van geboorte of weens ʼn gebeurtenis, móét leer om aan te pas.

Dit is waarom ons die SING, HOOP, WEERKLINK-konsert so verpak het dat almal wat met verlies worstel, kan besef dat dit moontlik is om weer op te staan en aan te gaan. Jy sal weer kan sing, jy sal aanpas, jy sal weer kan hoop, jy sal self die boodskap weerklink.

Ek dra hierdie lied op aan die mense wat my oom Hermanus Nicholaas van Rooyen in liefde agter gelaat het. My verhaal is helaas nie uniek nie; ek weet daar is baie mense daar buite met dieselfde lot.

Ek dra die lied aan alle covid-19-slagoffers op.

Kom ons sing dat die hoop weerklink!

“SING, HOOP, WEERKLINK”-lirieke

Groen vars gras, alleen hier staan ek,

heilig stil, ons bymekaarkomplek,

die trom en trompet, het dit lanklaas gehoor,

ʼn klank uit die hemele, ʼn engelekoor.

 

Ons gedenk die helde.

Ek weet hul staan hier tussen ons.

Die oues van dae weet, helde val vroeg soms.

 

Sal jou eendag daar vind.

Sal jou mense saambring.

Sal ons kinders grootmaak, soos wat jy goed sou dink.

As ons daar kom, sal ons instap, jou en almal daar vind.

Daar sal legendes sing, hoop, weerklink.

ʼn Leeftyd vol trots, klein kinders en nog.

Ek weet jy sal kyk, ek sien jou glimlag skyn.

Jou lig sal ons dra, jou woorde laat hoor.

ʼn Klank uit die hemele, ʼn engelekoor.

 

Daar sal legendes sing in engelekoor.

 

Daar sal legendes sing, hoop, weerklink.

Daar sal legendes sing in engelekoor.