Skenk ‘n Piet Tande Boekie

Piet Tande is ’n unieke storieboek oor die tandemuis wat op ’n speelse manier die belangrikheid van mondhigiëne vir kleuters leer.

Die storie agter Piet Tande ~ Gazelle Wilson

Almal van ons was eens op ’n tyd jonk en naïef. Ons het in allerhande fantasiekarakters geglo soos Kersvader, die Paashaas, kabouters, dwergies en feetjies. En dan natuurlik ook die tandemuis, wat in my inkleurstorieboek as Piet Tande bekendstaan. Piet Tande se inkleurstorieboek is dan ook die titel van die boek.

Daar is min dinge meer kosbaar in die lewe as die onskuld van ’n kind. Kindwees – meer spesifiek die kort tydperk waartydens kinders in fantasieë glo en hul verbeelding oortyd werk – duur slegs ’n paar jaar en daarom moet elke oomblik daarvan gekoester word. Ná die geboorte van my seuntjie Edward het ek besluit om ’n verhaal oor Piet Tande te skryf. Ja, ek weet daar is reeds talle boeke oor die tandemuis, maar ek wou graag my eie, unieke storie oor die tandemuis skryf; iets waarop Edward eendag kan terugkyk en weet dat sy mamma ook ’n rol gespeel het in die vorming van sy fantasiewêreld.

Piet Tande se inkleurstorieboek is ’n lekkerleesstorieboek wat op so ‘n maklik verstaanbare trant geskryf is dat dit óf deur mamma en pappa aan hul kroos voorgelees kan word, óf deur die jongspan self gelees kan word. Die boekie dien terselfdertyd as ’n inkleurboek; elke bladsy bevat ’n bypassende wit-en-swart prentjie wat kinders kan inkleur. Dus leer lees hulle sommer so speel-speel!

’n Tandeborselskedule word ook gratis by elke Piet Tande-boekie ingesluit. Hierdie skedule is net soos die boekie in ’n handige A5-formaat beskikbaar. Dit is gelamineer en kan teen die yskas of badkamer se deurkosyn vasgesit word. Mondhigiëne op ’n jong ouderdom is baie belangrik en daarom het ek dit goedgedink om só ’n skedule in te sluit sodat kinders sommer op ’n speelse manier kan leer om gereeld (ten minste twee keer per dag) hul tande te borsel. Vir elke dag van die week is daar twee kolomme op die skedule wat tandeborseltyd soggens en saans aandui . Twee kleinerige magnete, wat ook gratis saam met die skedule versend word, word elke dag heen en weer geskuif sodat die kind en die ouer albei kan sien of die kind op die regte tyd tande geborsel het.

My wens is dat ander kinders Piet Tande se inkleurstorieboek net so baie soos Edward sal geniet. Indien jou kinders dus nog besig is om melktande te wissel én steeds in die tandemuis glo, waarom hulle dan nou nie aan Piet Tande voorstel nie? Kinders is nie altyd lus om hul tande te borsel nie, maar dalk maak Piet Tande tandeborseltyd ’n bietjie aangenamer deur dit in storietyd en inkleurtyd te verander. En op dié speelse manier leer hulle van jongs af hoe belangrik tandeborsel is!

*Ek bedank Solidariteit Helpende Hand graag vir hulle bereidwilligheid om Piet Tande se inkleurstorieboek te bemark en my sodoende te help om my droom te bewaarheid dat soveel as moontlik kinders elk ’n kopie daarvan sal besit.

Skenk ‘n boekie

Jy kan bydrae tot die bewusmaking deur ‘n Piet Tande-boekie vir ’n kleuter te skenk. Vir elke boekie wat geskenk word, skenk Helpende Hand ook ‘n boekie.

Skenk 'n Piet Tande boekie

"*" indicates required fields

Naam en van*
(Vir elke boekie wat jy skenk, skenk Helpende Hand ook 'n boekie)