Liewe Leser
Brief 26
Ek het al baie oor my roeping gewonder en mettertyd besef dat ons roeping nie net gaan oor dit wat ons wil bereik nie, maar eerder om te verstaan waarom ons bestaan en hoe ons tot die gemeenskap kan bydra. Ons roeping oortref ons begeertes en verwagtinge, want dit ontbloot die essensie van ons diepste wese.
As iemand wat op introspeksie floreer en gereeld wonder waarom ek is waar ek geplant is, aanvaar ek die soeke na sin as ‘n lewenslange ontdekkingsreis. Die voetpad tussen die Hemel en die aarde kan uitdagend en onbekend wees. Ons weet nie wat ons nie weet nie en probeer staatmaak op die kennis wat ons uit vorige ervarings geleer het. Op ons lewensreis kruis ons paaie gereeld met dié van ander voetgangers. Dis belangrik om te weet dat ons almal se paaie van mekaar verskil en dat dit vir ons roepings ook geld. Miskien is dit een van die redes waarom dit uitdagend kan wees om ons roeping uit te ken, want wat vir ons belangrik is, is nie noodwendig vir almal belangrik nie.
‘n Roeping gaan ook hand aan hand met hoop. In ‘n wêreld waar ons gereeld beproef en uitgedaag word, kan hoop beskou word as die baken wat ons donkerste tye verlig. Hoop is ‘n oortuiging dat dinge ten goede kan verander en dat daar steeds moontlikhede vir ons op die horison lê en wag om ontdek te word. Wanneer dit minder goed gaan, herinner hoop ons aan die inspirerende dade van vriendelikheid, deernis en solidariteit. As ons hoop het, het ons die dryfkrag om aan te hou stap op die pad na die onbekende, om mense te ontmoet en geleenthede te ontdek. Hoop laat ons uiteindelik toe om die onsienlike in die tye van onsekerhede raak te sien. Hoe mooi is dit nie om te weet dat ons is waar ons is omdat ons deel van ’n groter plan is nie. Selfs al is die reisplan onduidelik, weet ons met sekerheid dat ons hier hoort en dat dit wat ons doen nie net broodnodig is nie, maar ook genoeg is – selfs al voel ons klein.
Hilde
Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5