FroueVonds navorsing

#HELPHETTA-PROJEK; MÉÉR AS NET FISIESE ONDERSTEUNING

Hetta is ’n doodnormale 13 jarige meisie. Sy sit langs jou dogter in die Gr. 8 Lewensoriënteringklas en speel in die onder 14 hokkiespan van die Hoërskool. Sy bloos saam met haar vriendinne in haar graad as die matriekseuns verbystap en gesels graag saam met die meisies oor die nuutste modes en haarstyle.

Dis ook op hierdie vriendinne en die onderwysers by die skool waarop sy dikwels moet staatmaak as haar ondersteunersnetwerk. Waarvan jy wel dalk nie bewus is nie, is dat sy moontlik in ’n kinderhuis of informele nedersetting woon.

Soms, bly Hetta net ’n week weg van die skool af, sonder om iets van haarself te laat hoor. In hierdie tyd loop sy belangrike toetse en opdragte mis, wat ingegee moes word. Onderwysers trek net skouers op omdat geen doktersbriewe ingehandig word nie.  Sy mis uit op die skooldans en hokkie oefening. Sy is selfs afgeskuif na die B-hokkiespan omdat die afrigter moeg is daarvoor dat sy so gereeld oefening mis. Haar selfbeeld en selfwaarde kry ’n knou omdat sy nie meer saam met haar vriendinne kan gesels oor alles wat by die skool gebeur nie. As mens vir Hetta vra waar sy was, is die antwoord altyd dieselfde “ag sommer dinge by die huis”.

Die waarheid is egter dat Hetta en haar ouers nie sanitêre ware kan bekostig nie. Die afwesigheid van hierdie produk wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar, het reusagtige gevolge op skoolgaande meisies se lewens. Daarom het Solidariteit Helpende Hand reeds in 2015 die #HelpHetta-projek van stapel gestuur om hierdie meisies van sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte te verskaf.

Ons het egter die afgelope jaar bevind dat dit nie genoeg is om net die fisiese behoeftes van die meisies aan te spreek nie, maar ook die behoefte aan ondersteuning op ’n emosionele – en geestelike vlak.

Helpende Hand het in 2020 navorsing gedoen onder die meisies wat dié jaar deel uitgemaak het van die projek. Die doel van die navorsing was om te bepaal hoe hul profiel lyk, om hul behoefte aan opleiding in verskillende kwessies te ondersoek, asook die behoefte aan emosionele en geestelike ondersteuning te bepaal.

Die volgende is rakende die profiel van ’n meisie wat deel uitmaak van die #HelpHetta-projek is gevind:

  • 50% van die meisies is 10 tot 13 jaar oud.
  • 27% van die meisies word deur ’n enkelouer grootgemaak.
  • 25% van die meisies kry geen ondersteuning van hulle ouers nie.
  • 15% woon in ’n kinderhuis of informele nedersetting

Die volgende is rakende die opleiding en ontwikkelingsprogramme waaraan die meisies ’n behoefte het bepaal:

  • 55% wil aan hul selfwaarde en selfbeeld bou.
  • 43% wil selfverdedigingsklasse bywoon.
  • 38% wil leer om verhoudings beter te hanteer.
  • 35% het ’n behoefte aan geestelike ontwikkeling.
  • 12% wil meer inligting oor verslawing ontvang.

Helpend Hand het in Augustus 2020 ’n #HelpHetta WhatsApp-groep vir hierdie meisies begin om tydens Covid-19 die emosionele en geestelike behoeftes tot ’n sekere mate aan te spreek. Kwessies wat deur die meisies identifiseer is, is aangespreek deur inhoud wat saamgestel is deur ons span maatskaplike werkers. Ons poog om in die toekoms ook groter aksies van stapel te stuur om hierdie behoeftes aan te spreek.

Met die #HelpHetta-projek, wil ons elke meisie, ongeag haar omstandighede, soos elke ander meisie wat saam met haar in die klas sit, laat voel. Ons wil hulle op ’n holistiese vlak (fisies, emosioneel en geestelik) ondersteun, om nie net elke dag skool by te woon nie, maar om in hul totale menswees te ontwikkel en te groei.

Vir meer inligting oor die #HelpHetta-projek en hoe om betrokke te raak, besoek www.helphetta.co.za.

Volg gerus die skakel om die volledige verslag te lees:

Die HelpHetta-projek: Behoeftebepaling 2020

Solidariteit Helpende Hand (voorts verwys na as Helpende Hand) is ’n organisasie geskoei op die beginsels van die Helpmekaar-beweging van 1949. Solidariteit Helpende Hand wil deur volhoubare ontwikkelingsprogramme en -projekte, opleiding, netwerkvorming en hulpbron-ontginning die selfontwikkeling van die mens in sy gemeenskap en die ontwikkeling van die gemeenskap as geheel, bevorder.
Een van hierdie projekte is die #HelpHetta-projek wat sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte aan behoeftige meisies op ’n kwartaallikse basis versprei. Duisende skoolgaande meisies se lewens kom elke maand vir vyf dae tot stilstand omdat hul huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie.

Navorsing het getoon dat:

  • 52 skooldae deur meisies wat nie sanitêre ware kan bekostig nie, gemis word;
  • 13% van meisies, in alle Suid-Afrikaanse skole, nie sanitêre ware kan bekostig nie; en
  • dat 107 skole/instansies hulp van die #HelpHetta-projek versoek.

Na aanleiding van die bogenoemde, is die projek in 2015 deur Solidariteit Helpende Hand gestig en poog dit om meisies die vernedering te spaar, hul waardigheid te beskerm en te verseker dat hul elke dag skool, buitemuurse- en sosiale aktiwiteite kan bywoon. Persoonlike higiëne is ’n platform vir die bemagtiging van meisies.

Hierdie verslag bied ʼn opsomming en verwerking van data uit die navorsingsvraelys wat aan al die meisies wat deur die Help Hetta-projek hulp ontvang het, gestuur is.