Die impak op kinders wie se regte misken word

Deur Elrisa Botha

Hoeveel anders sou die wêreld nie gelyk het as daar geen wette en menseregte was nie?

Hoe kan ‘n mens sonder duidelike riglyne die mensdom se unieke persepsie en uitkyk op die lewe in lyn hou om te sorg dat alle mense, ook kinders, hul regmatig plek in die son kan geniet?

As mense mekaar se regte eerbiedig, verseker dit ‘n veilige omgewing vir kinders. As hulle dit nie doen nie, is daar ook onopsetlike nagevolge vir kinders. Ongelukkig eerbiedig nie almal mekaar se regte nie en daarom is inisiatiewe soos Kinderbeskermingsweek belangrik om mense bewus te maak van dié kwessie.

Een van die gevolge as mense mekaar se regte skend, is die emosionele onsekerheid en gevoel van onveiligheid wat kinders ervaar. Dit kan hul identiteitsvorming beïnvloed en vrees en angstigheid bevorder. Die Bybel leer ons om God te vertrou sodat ons sy rus en vrede kan ervaar om in ‘n verlore wêreld te floreer. Net so het kinders ‘n mens nodig wat hulle kan vertrou om veilig te voel, iemand wat vir hulle genoeg sekuriteit bied sodat hulle in gesonde volwassenes kan ontwikkel.

Kinders is ongelooflik veerkragtig. Dit help hulle om mishandeling en ander uitdagings te hanteer. Ongelukkig lei hierdie veerkragtigheid daartoe dat kinders mishandeling dikwels geheim hou. Hulle glo soms dit is normaal of dit is hulle skuld.

Die verantwoordelikheid om op te staan vir kinderregte rus nie net op die skouers van professionele persone nie, maar ook op die gemeenskap. Die gemeenskap speel ‘n kritiese rol om ‘n veilige, liefdevolle, beskermende omgewing te skep waarin kinders kan floreer. Die gemeenskap dien as die oë in die omgewing en moet soms as lewensredders optree vir kinders wat dit so nodig het. As die gemeenskap faal om ons kinders te beskerm, het dit hartverskeurende gevolge, want dan is ons kinders totaal uitgelewer aan die magte van verwoesting en verlatenheid.

Dit is dus belangrik dat elke lid van die gemeenskap moet bewus wees van hul verantwoordelikheid en hul rol om kinders te beskerm. Dit is eenvoudig as ons begin deur ons ingesteldheid te verander. As die gemeenskap met professionele persone hande vat en as ons mekaar met woord en daad lief het en ondersteun, kan ons help om die volgende generasie te laat floreer. Solidariteit Helpende Hand staan saam om kinders se regte beskerming. Wat doen jy?