#LieweLeser
Brief 62
Een van die moeilikste lesse wat ek in die lewe moes leer, was om te aanvaar dat nie almal van my gaan hou nie en dat wat mense van my dink eintlik niks met my te doen het nie. Dis heeltemal menslik om te dink die wêreld fokus net op my, min wetend dat my ingesteldheid grotendeels is om net op myself te fokus.
’n Anonieme plasing wat my bybly, lui soos volg: “As eksterne validasie jou enigste bron van voeding is, sal jy vir die res van jou lewe honger wees.” Ek dink dis baie mooi gestel, want mense se opinies skep soms verwagtinge sonder dat ons dit besef. Die rede daarvoor is eintlik heel eenvoudig: Ons probeer by die wêreld se sieninge aan pas sodat ons net iewers kan inpas.
Nie elke opmerking of gedagte oor ons is altyd positief nie, daarom bring dit vertroosting om te weet dat mense se siening oor ons net ’n mening is en nie noodwendig ’n feit nie.
Ironies genoeg help dit ons ook om te weet dat daar mense is wat wél aan ons dink. Dis daardie mense wat vertroosting bied en jou verseker dat jy nie alleen is wanneer jy met ’n uitdaging worstel nie. Wanneer ons dit weet, voel ons nie net raakgesien nie, maar dit skep ook ’n gevoel van behoort.
Die vraag is dus nie wat mense van ons dink nie, maar eerder wat ons van mense verwag en wat God van ons verwag. As ons aan God se verwagtinge voldoen, kyk ons met ’n ander lens na die wêreld en is die kanse goed dat ons nooit sal honger ly nie.
Hilde
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5