#LieweLeser
Brief 61
Ek het ’n rukkie terug aan ’n gesprek deelgeneem waar ons in ’n groep gesels het oor die dapperheid wat dit verg om ’n vraag te vra. Die gesprek loop toe in ’n rigting waar een van die sprekers ’n sentimentele gedagte met ons almal gedeel het.
Die man vertel dat sy pa hom van kleins af geleer het ’n mens gaan altyd met ’n “nee” in jou sak sit as antwoord op ’n vraag wat jy nie vra nie. Die kanse dat jy “nee” gaan hoor, is met ander woorde altyd daar en dit kan slegs verander as jy die vraag vra en iemand sê “ja”.
Soms is ons ’n bietjie skrikkerig om ’n vraag te vra, omdat ons bang is vir die antwoord, maar as jy vra met die wete dat jy reeds met ’n “nee” in jou sak sit, is dit makliker om die groot vraag te vra en oop te wees vir die moontlikheid dat iemand jou “nee” in ’n “ja” kan verander.
Jy het reeds jou nee.
Dit kan net verander as jy die moed bymekaarskraap en die vraag vra.
Hilde
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5