Die welstand van ons gemeenskappe lê in volhoubare strukture van geborgenheid

Geborgenheid – sinoniem met “veiligheid, gerustheid, vastigheid, sekerheid”. Dit is woorde wat kalmte en tevredenheid oor ‘n mens bring as jy daaraan dink en jouself daarmee kan vereenselwig in jou beroep, jou gesin en jou gemeenskap. ‘n Geborge plek is ‘n plek waar alle mense ‘n diepgaande fisiese, emosionele en sosiale veiligheid, ondersteuning en aanvaarding beleef. Geborgenheid in ‘n gemeenskap word nie in afsondering geskep nie, maar met samewerking en waar mense sê: “Hier is my hand.”

Geborgenheid sluit ook die besef in dat ons mekaar in ‘n sisteem, instelling of gemeenskap nodig het, op mekaar kan staatmaak en mekaar wil versterk. So kan ons ons verantwoordelikheid nakom teenoor ons medegelowiges, medemens en gemeenskap wat God aan ons toevertrou.

Geborgenheid herinner my aan Prediker 4:9-12:

Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

Jesus self het geborgenheid baie belangrik geag. Hy het gekies om sy tyd op aarde nie alleen deur te bring nie, maar in die teenwoordigheid van sy dissipels met hulle uiteenlopende agtergrond, talente en gawes. Jesus het die impak en volhoubaarheid van geborgenheid verstaan en dit ook vir die dissipels geleer. Geen mens se talente en gawes is beter as die ander s’n nie. Ons moet ons talente, gawes en sterkpunte geniet en dit tot voordeel van en in samewerking met ander gebruik. So kan ons mekaar aanmoedig. Jesus het saam met sy dissipels gestap, gewerk en hulle geloof versterk, omdat Hy geweet het hulle gaan eendag die geloofspad moet stap sonder dat Hy fisies teenwoordig is. Samewerking tussen gemeenskapslede, kerke, skole en ander instellings kan ons ook versterk.

Ek is onlangs gekonfronteer met ‘n vraag van ‘n lid van ‘n skool se beheerliggaam. Daar is ‘n gesprek gevoer oor die nodigheid om ‘n maatskaplike werker aan te stel en die impak wat ‘n maatskaplike werker op kwesbare kinders en gesinne in die skool kan maak. Hy het aan die paneel gevra: “Is dit werklik die skool se verantwoordelikheid?”

Die volgende stelling het my bygeval:”Die gedagte dat party lewens belangriker as ander is, is die wortel van alles wat verkeerd is in die wêreld.” Waar trek ons die lyn tussen dié wat ons in ons gemeenskap geborge laat voel en dié oor wie ons ons nie kwel nie?

Geborgenheid in ‘n gemeenskap is ‘n absolute behoefte van elke kind, bejaarde, gesin en mens met ‘n gestremdheid, ongeag uit watter sosio-ekonomiese klas hulle kom of wat hulle ras, ouderdom of kultuur is. As ons vir ons kinders en kleinkinders ‘n geborge gemeenskap wil skep, is dit van kardinale belang dat ons volhoubare strukture in plek moet sit, bestaande strukture moet versterk en nuwe strukture moet bou. Ons moet effektief saamwerk om ‘n sterker vangnet vir ons medemens te wees.

Geborgenheid is ‘n ingesteldheid en bewustheid wat by elke kind, individu en instelling in ‘n gemeenskap gekweek moet word. Ons moet besef wat ons kapasiteit is en ons moet ons gawes, talente, hulpbronne, netwerke, finansies en strukture gebruik om saam van grondvlak af volhoubare strukture te bou om maatskaplike uitdagings te verlig, verbreek en voorkom.

Raak ingestel op geborgenheid

  • Doen moeite om rolspelers in jou gemeenskap wat ingestel is op geborgenheid, soos maatskaplike werkers, predikante en weldoeners, te betrek by gesprekvoering rakende die gemeenskap se maatskaplike uitdagings. Voer gesprekke met hulle en luister na hulle raad en voorstelle.
  • Fokus op die sterkpunte in jou gemeenskap en bou volhoubare, geborge strukture tot voordeel van almal in jou gemeenskap.
  • Neem kennis van mense in jou gemeenskap se talente en gawes en ondersteun hulle inisiatiewe. Finansies is nie die enigste manier om geborge strukture te bou nie.
  • Vind plaaslike oplossings vir plaaslike probleme.
  • Word effektief deel van oplossings wat volhoubare strukture skep om jou gemeenskap te bevoordeel.
  • Kry ‘n ONS-mentaliteit en nie ‘n EK-mentaliteit nie.
  • Wees proaktief ten opsigte van probleme in jou instelling of gemeenskap en betrek mense vir raad en samewerking.
  • Neem kennis van waar opleiding, opvoeding en ontwikkeling benodig word en kry kenners uit die gemeenskap om sulke geleentheid te behartig.
  • Werk multidissiplinêr saam en gebruik mekaar se sterkpunte tot voordeel van jou gemeenskap.
  • Geborgenheid is gegrond op vertrouensverhoudings en goeie verstandhoudings. Definieer grense, kapasiteit en verwagtings in samewerking met ander instellings vir suksesvolle uitkomste.

Moeders Theresa het ook iets van geborgenheid verstaan. Sy het gesê: “Die sukses van liefde is in die DAAD van liefde, nie in die resultaat van liefde nie.” Wanneer ons in liefde luister en op geborgenheid ingestel is, fokus ons daarop om vas te stel wat mense en instellings se behoeftes waarlik is en op langtermynoplossings daarvoor, nie op oppervlakkige wense en korttermynoplossings nie. Hoewel laasgenoemde dalk onmiddellike satisfaksie gee, het dit geen volhoubare impak op die volgende generasie nie.

John Powell beskryf ‘n ingesteldheid op geborgenheid soos volg: “Geborgenheid behels die vasberadenheid om mense nie bloot te verdra en te respekteer nie, maar om te verseker dat alle mense welkom en tuis voel en ‘n gevoel van samehorigheid beleef.

Geborgenheid begin by onsself; dit word natuurlik gevorm in ons gemeenskap se sisteme en instellings. Dit is ons verantwoordelikheid om ons geborgenheid binne ons vermoë uit te leef en om volhoubare, geborge strukture vir ons kinders en kleinkinders na te laat sodat hulle die vrugte kan pluk van dit wat ons vandag saai.

Nadia van der Merwe Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand – Platinum streek