Liewe Leser

Ek het heelwat sandkastele in my kinderdae gebou. Om ‘n sandkasteel op die strand te bou, was eenvoudig, want al wat ek nodig gehad het was, sand, water, ‘n emmer en grafie. My kinderhande het elke sandkasteel met sorg en geduld gebou, welwetende dat dit weerloos teen die krag van die see sou wees. Soms het die branders my harde werk omgespoel, dan het ek na die modderwater gekyk, vinnig vrede daarmee gemaak, die skulpies weer versamel, ‘n paar tree teruggegee en dadelik weer begin bou. Gewoonlik was my tweede poging altyd beter as my eerste.

Vandag gebruik ek dié herinnering as ‘n voorbeeld van hoe broosheid kan lyk. Net soos aan sandkastele, bou ons hard aan ons drome, verhoudings en geluk met die wete dat dit kwesbaar is en skielik kan verander.

Ek het hierdie jaar ‘n paar doelwitte gehad, maar my planne het, weens ‘n hele paar branders vinnig verander. Soms stuur die lewe jou onverwags in ‘n ander rigting en kan dit jou met groot teleurstelling en verlies los, want dis wat die lewe doen –dit gee en dit neem.

Om broos in ‘n harde wêreld te wees, maak jou nie minderwaardig nie. Dit wys dat jy braaf is, juis omdat jy kans sien om ten spyte van jou uitdagings iets moois te skep –selfs al moet jy soms oor begin.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5