Tekkies en Toks – dit is meer as net skoene

Tekkies en Toks – dit is meer as net skoene

Deur Vlok Cilliers

“Children are the only future the human race has. Children only ask for love, time and attention.”

Kinders lê my na aan die hart en hulle vra nie baie nie. As ons dit nie ons verantwoordelikheid maak om na hulle te kyk en ’n beter toekoms te gee nie, wie anders gaan dit dan doen?

Daarom het ek en my VlokSkop Stigting saam met Morné Steyn besluit om hande met Helpende Hand te vat om die Tekkies & Toks-projek van stapel te stuur. Ons wil met hierdie projek een reuse verskil maak in ons land, ons omgewing, binne in ons gemeenskap en kinders sodoende help, opvoed en oplei.

Ons gaan nie net skoene aan hul voete sit nie, maar meer belangrik wil ons op ander vlakke positiewe bydraes maak tot ons kinders. Ons wil kyk om kinders op ’n geestelike vlak te help, emosioneel en natuurlik liggaamlik. Hierdie aspekte gaan almal hand aan hand met mekaar.

In die tye wat ons leef vandag, met hierdie Covid-19-pandemie, word mense en soveel meer kinders geïsoleer van hul maatjies en ons almal weet hoe belangrik is dit vir kinders om sosiaal te verkeer.

So met hierdie veldtog wil ons weer kinders hoop gee, ons wil weer dat hulle in hulself glo, selfvertroue kweek, en hulle leer dat vandag se besluite more se planne beïnvloed. Ons wil kinders help om weer hul drome na te jaag.

Ons as mense is nie gemaak om alleen te wees nie en veral as jou vryheid weggeneem word en jy is geïsoleer, raak dit net moeilik en moeiliker om deur elke dag te gaan.

Daarom gaan ons ’n daadwerklike verskil maak in ons toekoms, wat ons kinders is, en hulle weer hoop gee.

Onthou net dit – kinders vra nie om in die wêreld te wees nie, al wat hulle vra is liefde, aandag en tyd. Kom ons gee dit vir hulle met hierdie projek.