Vlok Cilliers en Morné Steyn maak ʼn verskil in ons jeug se toekoms

23 April 2021

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND MEDIAVERKLARING

Vlok Cilliers en Morné Steyn maak  ʼn verskil in ons jeug se toekoms

Die bekroonde skopafrigter, Vlok Cilliers, is terug op eie bodem en saam met Morné Steyn snoer hulle kragte met Solidariteit Helpende Hand saam om skop-skop ʼn verskil in die lewens van ons land se jeug te maak.

In Maart 2021 is die Tekkies & Toks-projek van stapel gestuur om, met die hulp van die publiek, minstens 1 000 behoeftige hoërskoolleerlinge landwyd met tekkies en toks toe te rus. Met hierdie noodsaaklike sporttoerustig sal hulle hul sport op gelyke vlak met hul spanmaats kan beoefen.

“Sedert Tekkies & Toks ʼn paar maande gelede begin het om ʼn verskil te maak, het dié projek tot iets veel groters gegroei. Hieroor is ek baie opgewonde,” sê Cilliers.

Solidariteit Helpende Hand en die Vlokskop-stigting het sedert Maart aflaaipunte regoor die land geïdentifiseer waar die publiek nuwe of tweedehandse tekkies en toks kan skenk. Tot groot verbasing het skole regoor die land by hierdie inisiatief betrokke geraak. Selfs lede van die publiek en besighede het die projek begin ondersteun.

Margolé Riekert, projekorganiseerder van Tekkies & Toks, sê dat die behoefte baie groter is as wat Helpende Hand aanvanklik gedink het.

“Om in hierdie behoefte te voorsien, die publiek bewus te maak en fondse vir behoeftige hoërskoolleerlinge in te samel, het Helpende Hand in samewerking met Vlok Cilliers en Morné Steyn ʼn virtuele pretstap vir 8 Mei 2021 gereël. Die publiek word genooi om deel te neem en ʼn verskil in ons jeug se toekoms te maak,” sê Riekert.

Morné Steyn moedig die publiek aan om hulle eie roete met hierdie virtuele pretstap van 5 km te bepaal en dan op 8 Mei deel te neem.

“Ek sien baie uit na hierdie geleentheid. Dit sal interessant wees om te sien hoeveel mense hierdie 5 km virtueel saam gaan stap, draf of dans. Hierdie is ʼn uitstekende inisiatief en dit is lekker om te weet ek kan iets teruggee. Baie van ons aanvaar dit as vanselfsprekend om elke dag ʼn paar skoene aan te trek en met tokse op die rugbyveld te draf terwyl so baie mense dit eenvoudig nie kan bekostig nie. Met hierdie projek wil ons ’n verskil maak en ons hoop ons kan die publiek se harte aanraak om ons te help,” sê Steyn.

Helpende Hand besef die belangrikheid van sport vir kinders op soveel vlakke van hul ontwikkeling. Finansies moet nooit die rede wees dat kinders nie aan sport kan deelneem nie.

Cilliers sluit af met die woorde: “Sedert die projek afgeskop het, het ek gesien hoe mense se harte oopgaan. Dit wys vir my dat wanneer God ʼn idee of  ʼn droom vir mens gee, niks of niemand jou kan stop nie. Guns sal jou vooruit gaan.”

Mense wat aan die virtuele pretstap wil deelneem, kan aanlyn by www.tekkiesentoks.co.za inskryf. Inskrywings beloop R25 per persoon. Die skool met die meeste leerders wat deelneem, wen ʼn besoek deur Morné Steyn. Pappas, mammas, oupas en oumas is ook welkom om deel te neem.

//Einde

FOTO: Vlok Cilliers en Morné Steyn

Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand:

Margole Riekert

Projekorganiseerder

Sel: 074 4880 508

E-pos: [email protected]