Liewe Leser

Brief 27

Met alles wat in die wêreld aangaan, is ek gemaklik om te sê dat die lewe as ’n dinamiese reis gesien kan word. ’n Lewenspad is vol kinkels, uitdagings, verrassings en draaie. Soms stap ons ons paaie alleen en soms kruis dit met dié van mense wat vir ons geleen is. Ons is ook nie altyd seker waarheen ons paaie ons môre gaan neem nie, maar in die geloof bly ons stap.

In ’n wêreld waar alles verander en niks permanent is nie, troos ek my daaraan dat daar altyd nuwe geleenthede op ons paaie sal wees – selfs al sien ons dit nie dadelik raak nie.

’n Nuwe geleentheid kan ons aanspoor om ons drome en aspirasies te verwesenlik. ’n Geleentheid gaan hand aan hand met ’n kans, want ’n kans gee vir ons die geleentheid om onbekende gebiede te verken en ons vaardighede en talente te ontwikkel. ’n Kans maak ons nuuskierig, want ons weet daar is baie wat ons nie weet nie en daarom is ons bereid om ’n kans te waag en te kyk wat die gevolge daarvan gaan wees.

Geleenthede kan ons uit ons gemaksones stoot en persoonlike ontwikkeling aanmoedig. Dit kan ook intimiderend wees, juis omdat dit vir ons onbekend is. Uit ervaring sal ek erken dat die geleenthede wat my die bangste gemaak het die bestes was om aan te gryp, want dis hulle wat my horisonne verbreed en my toegelaat het om die wêreld uit verskillende perspektiewe te beskou.

Net soos veldblommetjies is elke geleentheid reeds in ons paaie geplant. Dit hang van ons af of ons hulle wil pluk of nie. Geleenthede bou ervarings en verhoudings met mense. Dit verryk ons begrip vir mense en kweek empatie en deernis. Dit skep ’n onderlinge verbondenheid en inspireer ons om ‘n positiewe bydrae in ons gemeenskap te maak.

As ons geleenthede skep, is daar ’n kans dat ander mense ’n geleentheid kan kry om hul lewenspaaie te verryk. Ons kan dit net doen as ons geleenthede aangryp.

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5