Hoe om ‘n ouetehuis as eindbestemming te vermy

Veroudering is iets wat ons almal op een of ander wyse in die gesig staar. Of dit nou die persoon is wat in die spieël na jou terugkyk of jou ouers wat hul arms al hoe verder uitstrek om die spyskaart te kan lees. Dis waaroor baie van ons daagliks dink of wat ons daaglikse lewe beïnvloed. Ongelukkig is die term “veroudering” semanties gekoppel aan die term “verswakking”. Met veroudering verswak ons gesondheid en vermoëns heel dikwels. Dis iets waaraan ons nie noodwendig graag dink nie, maar ongelukkig is dit ‘n realiteit. In 2017 het Statistieke Suid-Afrika bevind dat 45,3% van mense bo die ouderdom van 60 hoë bloeddruk het en 16% artritis. Die ligste vorme van hierdie toestande vereis dat ‘n mens daagliks medikasie daarvoor moet gebruik en die ergste vorme dat jy daaglikse bystand moet ontvang. Die vraag is dan natuurlik wat jou opsies is as jy konstante ondersteuning nodig het as gevolg van ouderdomsverwante toestande.

‘n Tehuis vir bejaardes is natuurlik ‘n opsie, maar dit kom nie sonder sy uitdagings nie. Een van die uitdagings is onder andere hoë lewenskoste. Hulle verskaf nie net ‘n huis/woonstel/kamer vir jou nie maar ook toegang tot versorgingsdienste en gekookte etes en hulle neem verantwoordelikheid vir jou veiligheid. Hierdie dienste is van kardinale belang vir bejaardes, maar dit kom teen ‘n hoë prys, want hoe meer dienste vir jou beskikbaar gestel word, hoe meer personeel moet betaal word om daardie dienste te lewer. Hierdie verblyf plaas jou boonop in ‘n omgewing met beperkte diversiteit en streng reëls waaraan jy moet gehoor gee. Inwoners van sulke tehuise is al daarvan beskuldig dat hulle te veel kuiermense ontvang, te veel van die perseel afwesig is, teveel beweeg, die aandklokreëls oortree, op die verkeerde plek parkeer en nog vele meer.

Die dienste en voorwaardes mag vir ‘n groot aantal bejaardes na die gewenste opset klink, maar baie voel hulle is nog nie gereed om hulle huis te verlaat nie en so ‘n bestemming klink na ‘n straf. Onlangs is een van my beste vriende se ouma van 83 hulpeloos in haar bed in haar eie huis gevind. Sy het drie dae net daar gelê omdat sy as gevolg van ‘n onlangse besering nie kon opstaan nie. Sy was seer, dors en honger maar te bang om haar familie te laat weet sy is beseer, want sy het geweet watter besluit sou volg. Sy was toe ook reg – sy is na ‘n plaaslike ouetehuis gestuur. Die tannie wat haar hele lewe ongelooflik privaat en beskeie was, moes daar van kop tot toon deur ‘n wildvreemde gewas word omdat sy op daardie stadium baie verswak was. Dit was vir haar ‘n traumatiese ervaring. Al waarna sy deesdae uitsien, is die een naweek ‘n maand wanneer sy by haar kinders kan gaan kuier. En na die naweek keer sy in trane terug na die eenselwigheid en klomp reëls.

Maar daar is ‘n ander opsie: Tuisversorging.

Baie mense dink dikwels net die rykstes kan tuisversorging bekostig. Die teendeel is egter soms waar. Alles hang van jou omstandighede af. Tuisversorging is dikwels ‘n meer ekonomiese uitweg. Baie faktore moet wel in ag geneem word. Die belangrikste vraag is wat die bejaarde se behoefte is. Jy moet ‘n rasionele besluit neem oor wat jy regtig nodig het. As jy net ondersteuning nodig het met daaglikse take soos om jou gesondheid te monitor, kosvoorbereiding en badkamergebruik kan tuisversorging ‘n groot seën en verligting vir die familie wees. Jy hoef dan nie te betaal vir bykomende verblyf, sekuriteit en spyseniering nie. Jy betaal slegs een personeellid vir al die uiteenlopende ondersteuningsrolle en sy of haar totale verbintenis aan jou as kliënt. Dit beteken terwyl die tuisversorger by die kliënt is, ontvang daardie kliënt ‘n totale persoonlike diens wat net op sy of haar behoeftes gemik is.

Maar waar kry jy iemand wat die nodige kennis en ervaring het om jou te versorg?

Google sal jou vinnig voorsien van ‘n lys maatskappye wat sulke dienste lewer. Die vraag is egter of daardie persone ‘n passie het vir die diens wat hulle lewer, of hulle dieselfde waardes en kultuur as jy het, of jy met hulle ‘n verhouding sal kan bou, en iemand wat by die familie sal kan inskakel.

‘n Versorger wat aan al dié vereistes voldoen, sal jy beslis by Solidariteit Helpende Hand (SHH) se Opleidingsinstituut raakloop.

Die SHH Opleidingsinstituut is een van die Solidariteit Beweging se nuutste opleidingsfasiliteite. Daar word versorgers ses maande lank deur ‘n geregistreerde verpleegkundige opgelei. Solidariteit Helpende Hand het die behoefte aan tuisversorging in gemeenskappe geïdentifiseer en kenners genader om die kursus te ontwikkel en te aan te bied as deel van hulle missie om gemeenskappe te ontwikkel. SHH se opleiding van tuisversorgers strek baie verder as die blote oordrag van kennis en vaardighede. Hulle verseker dat die tuisversorgers wat hulle oplei ten volle begryp wat versorging behels en dat hulle die vermoë het om dit te verskaf. Daarom is die SHH Opleidingsinstituut se kursus baie meer omvattend as enige ander soortgelyke opleiding. Hierdie versorgers word blootgestel aan insiggewende seminare oor onder andere depressie, rou en smart; regte en etiese beginsels in die werksplek; selfbeeld en roeping; en die Wet op Ouer Persone. Hulle doen ook praktiese werkservaring op. So verseker SHH dat elke versorger hulle kliënte behoorlik versorg maar ook dat elke versorger die nodige instrumente beskikbaar het om hulself te versorg.

Ons kan nie veroudering vermy nie, maar ons hoef dit nie te vrees nie. Hoe jy dit hanteer, is absoluut in ons eie hande. Ondersoek al die opsies en kies dan die een waarvan jy die meeste hou.

Navorsing het al telkemale bewys dat mense wat hulle hele lewe lank gewoond was aan harde werk na hul aftrede ‘n verlaging in lewenskwaliteit beleef. Dit geld ook vir bejaardes wat baie aktief was en om een om ander rede skielik beperkte vermoëns het. Dit is verder algemene kennis dat verdeelde aandag nie vergelyk kan word met persoonlike, gefokusde aandag nie. SHH se Opleidingsinstituut het al ongeveer 104 versorgers opgelei wat bevoeg is om mense nie net te versorg nie maar omvattende ondersteuning aan hulle te bied. As jy in die toekoms wonder oor jou of jou geliefde se lewe vorentoe, onthou: Die eindbestemming hoef nie ‘n ouetehuis te wees nie.

Geskryf deur Wilmaré du Buisson, Navorser: Solidariteit Helpende Hand