Die realiteit van bejaardemishandeling

Bejaardes speel ’n belangrike rol in gesinne, families en gemeenskappe veral omdat hulle kennis en vaardighede het om te deel. Solidariteit Helpende Hand het die afgelope tyd verskeie versoeke gekry om hulp te bied aan bejaardes wat moontlik blootgestel is aan mishandeling. Dit is dus duidelik dat bejaardemishandeling ’n groeiende maatskaplike kwessie is.

Wat is bejaardemishandeling?

Bejaardemishandeling kom in verskeie vorme voor. Fisiese mishandeling is die gebruik van geweld teenoor ’n bejaarde persoon wat die persoon fisies leed aan doen. Fisiese mishandeling kan ook onderdrukking of inperking insluit. Emosionele mishandeling is wanneer ’n bejaarde persoon deur ’n ander persoon beledig of afgekraak word tot so ’n mate dat dit emosionele skade veroorsaak. Dit sluit ook intimidasie, vernedering en isolering in.

Seksuele mishandeling is die aanraking van ’n bejaarde persoon sonder sy of haar toestemming. Sulke aanraking kan fisiese seksuele dade behels, maar die ontkleding of blootstelling van ’n bejaarde aan seksuele dade word ook as seksuele mishandeling beskou. Verwaarlosing behels dat daar nie in die basiese behoeftes van die bejaarde persoon voorsien word nie. Finansiële uitbuiting behels die ongemagtigde gebruik van ’n bejaarde se fondse of eiendom, hetsy deur ’n versorger of enige ander persoon.

Die bejaarde en selfverwaarlosing

In baie gevalle woon bejaarde persone alleen en kan daar dalk opgemerk word dat hulle persoonlike higiëne agteruitgaan of dat hulle nie meer in staat is om basiese take uit te voer nie. 

Bejaarde persone weier soms hulp weens die feit dat hulle onseker is en bang is om afgesonder te word van die bekende en hulle familie en vriende. Verder is bejaardes dalk bang dat hulle hul huis sal moet verlaat en in ’n onbekende omgewing moet gaan woon.

Dit is belangrik om te onthou bejaardes verdien waardigheid, respek en die geleentheid om hul eie besluite te neem. Daar moet dus ’n pad gestap word met bejaardes ter voorbereiding op moontlike verandering.

Hoe kan ’n lid van die gemeenskap bejaardemishandeling aanmeld?

Ingevolge die Wet op Ouer Persone, No. 13 van 2006, is dit elke individu se verantwoordelikheid om bejaardemishandeling aan te meld.

Indien jy van mening is dat ’n bejaarde blootgestel word aan enige vorm van mishandeling, moet jy dit by die Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) aanmeld. Indien die bejaarde in ’n versorgingsoord is en deur ’n versorger mishandel word, moet dit by die bestuurder van die fasiliteit aangemeld word. Indien die bestuurder nie die mishandeling by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aanmeld nie, kan jy dit self daar aanmeld.

Age-in-Action se tolvrye nommer 0800 333 231 kan ook geskakel word. Hierdie organisasie se rol is om gevalle van mishandeling te ondersoek en dan dienste aan te bied en te verwys waar nodig. As jy oor ’n bejaarde bekommerd is, kan jy dit ook by die naaste maatskaplike organisasie aanmeld vir advies of verwysing na die relevante organisasie.

Dit is belangrik om te onthou dat jy nie “harde bewyse” nodig het om mishandeling aan te meld nie. Verskaf soveel as moontlik besonderhede wanneer jy iemand oor wie jy bekommerd is aanmeld, want hoe meer spesifiek die besonderhede is, hoe duideliker is die prentjie van wat aan die gang is.

Dit is vir Solidariteit Helpende Hand belangrik dat bejaardemishandeling op die regte manier aangemeld word, want dit verseker spoedige optrede. Voorkom verdere mishandeling en verwaarlosing van bejaarde persone en doen so spoedig en effektief as moontlik iets aan noodsituasies.

Chantell van Wijk

Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand