Doen jou deel. Meld kindermishandeling aan!

Wanneer die woord “kindermishandeling” gehoor word, is baie mense geneig om hulle koppe weg te draai en anderpad te kyk, want dit is bloot net te seer om te hoor. Die realiteit is dat kindermishandeling in alle gemeenskappe voorkom en dit kan heel moontlik by jou bure ook plaasvind – agter geslote deure waar niemand die waarheid hoor nie.

Kindermishandeling word gedefinieer as enige handeling of gebrek aan handeling tussen ‘n kind en sy of haar versorger wat tot die fisiese, emosionele, geestelike en ontwikkelingskade van die kind lei. Kindermishandeling sluit in emosionele, fisiese en seksuele mishandeling en verwaarlosing.

Vorms van mishandeling

Fisiese mishandeling behels die toedien van fisiese skade aan ‘n kind deur die persoon wat in ‘n versorgersposisie is, spesifiek die skop, slaan, byt en brand van ‘n kind.

Seksuele mishandeling verwys na enige optrede teenoor ‘n kind wat uitgevoer word vir die seksuele bevrediging van ‘n volwasse persoon of ‘n individu wat aansienlik ouer is. Vorms van seksuele mishandeling sluit in enige vorm van seksuele omgang, molestering, blootstelling aan seksuele aktiwiteite of seksuele materiaal, of die gebruik van ‘n kind in die vervaardiging van seksuele materiaal.

Emosionele mishandeling is dikwels moeilik om te identifiseer aangesien dit nie altyd fisies sigbaar is nie. Emosionele mishandeling sluit in die afbreek en lewer van negatiewe kommentaar teenoor die kind en die aanmoediging van ‘n kind om deel te neem aan kriminele aktiwiteite.

Verwaarlosing verwys na die versuim om in ‘n kind se basiese fisiese, emosionele, opvoedkundige en mediese behoeftes te voorsien. Een vorm van verwaarlosing is die versuim om te verseker dat ‘n skoolpligtige kind (7-15 jaar) skool bywoon.

Die rol van die gemeenskap

Artikel 110 van die Kinderwet, 38 van 2005, plaas ‘n verpligting op professionele persone om enige vermoede of kennis van kindermishandeling te rapporteer. Ingevolge die artikel moet enige persoon wat redelike gronde het om te glo dat ‘n kind sorgbehoewend is hierdie vermoede by ‘n welsynsorganisasie of polisiekantoor aanmeld. Indien hierdie vermoede te goeder trou aangemeld word, word die aanmelder beskerm teen alle siviele aanspreeklikheid.

Wat gebeur nadat ek aangemeld het?

‘n Maatskaplike werker wat vir ‘n kinderbeskermingsorganisasie werk en statutêre mandaat het, sal begin met ‘n ondersoek om te bepaal of die kind sorgbehoewend is of nie. Verskeie bronne sal geraadpleeg word tydens hierdie ondersoek. Jy kan versoek dat alle inligting wat jy deel, hanteer word as afkomstig van ‘n anonieme bron.

Indien daar bevind word dat die kind weens die geïdentifiseerde risikofaktore beveilig moet word, sal die kind uit die versorger se sorg verwyder en beveilig word. ‘n Maatskaplike werker kan ‘n kind met of sonder ‘n hofbevel verwyder. Indien die kind sonder ‘n hofbevel verwyder word, is daar ‘n voorgeskrewe vorm wat gebruik moet word. Die ouers moet deur die maatskaplike werker in kennis gestel word om op die volgende beskikbare hofdatum in die hof te verskyn en die hof besluit dan of daar genoegsame rede was vir die verwydering. Indien wel, word die verwydering bekragtig. Die kind word dan in ‘n plek van veiligheid geplaas by ‘n goedgekeurde instansie of persoon.

Die maatskaplike werker het 90 dae om ‘n ondersoek te doen om te bepaal of die kind ingevolge artikel 150 van die Kinderwet, 38 van 2005 ‘n behoefte aan sorg en beskerming het. Die 90 dae lange ondersoek kan verleng word op diskresie van die Kinderhof.

Indien daar bevind is dat die kind ‘n behoefte aan sorg en beskerming het, sal die Kinderhof ‘n hofbevel uitreik om die kind in alternatiewe sorg te plaas. Hierdie hofbevel is geldig vir ‘n tydperk van twee jaar en word dan hersien om te bepaal of die kind in alternatiewe sorg moet bly of met die biologiese ouers herenig kan word. Sommige kinders word na die ondersoek op sekere voorwaardes met hul biologiese ouers herenig en die hereniging word ook ‘n bevel van die hof gemaak. In alle gevalle moet die maatskaplike werker voortdurend dienste lewer.

Indien bevind word dat die risikofaktore nie ‘n groot impak op die kind se welstand sal hê nie, word vroeë intervensiedienste aan die gesin gelewer en die omstandighede van die gesin word gemonitor ten einde te verseker dat daar in die beste belang van die kind opgetree word.

Die impak van kindermishandeling strek verder as dit wat met die blote oog sigbaar is. Ter wille van ons kinders is dit daarom belangrik dat die gemeenskap nie langer stilbly nie. Wees die oë en ore in jou gemeenskap sodat ons kan verseker dat ons kinders vry en veilig kan leef.

Chantell van Wijk

Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-Streek