Die wil om te help

Deur René Roux Adjunk- Uitvoerende Hoof Media en Woordvoering: Solidariteit Helpende Hand

Hier staan ons weer aan die begin van Maart. Elke jaar in Maart vier ons Die Wil om te Help, ons vier maatskaplike werkers, en ons dink aan die opofferings wat hulle maak en die werk wat hulle doen omdat hulle geroep is om ander te help. Die Wil om te Help-veldtog het al ‘n reuse-impak gehad op maatskaplike dienste en maatskaplike werkers is daardeur op die voorgrond geplaas. Met dié veldtog kyk ons na die roeping wat sag rus in hierdie beroep, ons voer oop gesprekke oor ons land se maatskaplike kwessies, ons laat die lig skyn op stigmas wat aan maatskaplike werkers se werk kleef, en ons kyk wie die maatskaplike werkers in die gemeenskap is.

Ek glo vas maatskaplike werkers is deur die Here gestuur om te werk waar dit die nodigste is in ‘n samelewing. Hulle is na my mening werklik die gom van ons gemeenskappe en bevorder gemeenskapsontwikkeling op ‘n holistiese vlak.

Soos ons weet, volg daar op elke ekonomiese krisis ‘n maatskaplike krisis. In ons land is daar deesdae aanhoudend krisisse. In hierdie uitdagende tye vind ‘n mens hoop by die maatskaplike werkers van ons land. Hulle saai die hoop wat hulle koester ook onder ons mees kwesbare groepe. Hulle weet waarmee hulle besig moet wees en hoe om dit te doen. Hulle verstaan hulle roeping ten volle.

WIL is ‘n hulpwerkwoord. Hier by Solidariteit Helpende Hand kom die WIL om te help vanself vir ons wat geroep is om ons gemeenskap te dien. Wanneer laas het jy gaan kyk wie die maatskaplike werkers in jou dorp is? Wanneer laas het jy na die verskillende soorte maatskaplike werkers gekyk wat jou gemeenskap gesond hou? Dalk is jou indruk van wat ‘n maatskaplike werker doen heeltemal verwronge, of dalk weet jy presies wat hulle doen maar nie hoe om hulle te ondersteun nie. Gesinne is die fondament van ‘n gemeenskap, en gesonde gemeenskappe word op gesonde gesinne gebou, daarom het ons maatskaplike werkers nodig – soms baie nodiger as wat ons dink.

Marthie Maritz is een van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers. Sy skyf die volgende:

Maatskaplike werkers kan ‘n boek skryf oor alles wat hulle al beleef het. Soms is dit hartseer verhale vol teleurstelling en ander kere is dit vreugdevolle suksesverhale.

Soms ontmoet hulle rowwe diamante vir wie die lewe net ‘n skuins klap gegee het. So ontmoet ek nege jaar gelede vir Stienie (skuilnaam) en haar kinders. Sy het baie kinders gehad. Ek sê “gehad”, want sy is nie meer met ons nie. Daar was agt van die sieletjies, elkeen met ‘n ander pappa. So ‘n tipiese voorbeeld van ‘n vrou wat ‘n man nodig het om te oorleef. En sy moes altyd swanger wees.

Stienie was een van daardie rowwe diamante. Wild. Sou jou sommer met iets bykom, veral as jy “welsyn” sê. Sy het jou gou reggehelp: “Nee, dis welfare.” Dan was dit oorlog! “Maatskaplik” het ook nie gepas nie. Dit is bose mense en hulle kom om te vernietig. Die taalgebruik het my soms laat glimlag, al moes ‘n mens dan nou ernstig wees. Sy het almal “antie” of “tannie” genoem, al was sy ouer as hulle. Dit was maar haar manier om respek te betoon. Haar kinders was in die kinderhuis – die hele streep van hulle. As hulp- maatskaplike werker was my rol om die maatskaplike werker te ondersteun; ek was nie betrokke by die hofproses en die plasing van kinders in die kinderhuis nie.

Eendag was dit weer ‘n wilde dag: Oproep na oproep na die kantoor met skeltaal uit ‘n ander woordeboek.

Ek en een van die maatskaplike werkers het haar later gaan besoek. Ek het ‘n Bybel saamgevat en vir haar gevra of sy ‘n Bybel het. Die antwoord was ja, daar êrens onder in die kas. “Gaan haal daardie Bybel,” sê ek vir haar. Na al die intervensies en gesprekke was dit al raad wat ek oorgehad het. Die Here is jou herder.

Sy was eers dikmond oor die Bybel-versoek. Terwyl ek na die maatskaplike werker wys, sê ek vir haar: “Maatskaplike werkers is ook mense. Hulle het ook harte en daar vloei bloed deur hulle are. Hulle voel ook soms hartseer wanneer slegte goed gebeur en hulle is bly as goeie goed gebeur.”

Daar was iets in haar oë toe ons daar wegry. Ek twyfel of sy alles verstaan het. Maar daarna, tot die dag van haar dood, het sy die maatskaplike werkers wat aan haar diens gelewer het soos mense behandel. As een mens dit begryp en saamwerk, is dit al ‘n begin.

Ons gebruik kleur om die maatskaplike professie voor te stel – blou, groen, en pers. Dié kleure beeld maatskaplike werkers se waardes, doelwitte en doelstellings uit en skep ‘n sin van eenheid onder maatskaplike werkers. Blou simboliseer vertroue, groen simboliseer groei, en pers simboliseer waardigheid. Saam verteenwoordig hierdie kleure maatskaplike werkers se kernwaardes en hulle toewyding aan diegene wat hulp nodig het.

Daarom sal die gemeenskap sien dat Solidariteit Helpende Hand ons handelsmerk in Maart by hierdie kleure aanpas om maatskaplike werkers te vereer en die roeping wat hulle daagliks uitleef opreg te waardeer.

Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplikewerkdienste-afdeling bestaan uit ‘n span maatskaplike werkers en hulp- maatskaplike werkers wat in die onderskeie streke gestasioneer is. Hierdie span word as agente van verandering beskou omdat hulle gemeenskappe se Godgegewe talente en gawes met doelgerigte maatskaplike ontwikkeling ontgin. In samewerking met Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerders en vrywilligertakke mobiliseer die Maatskaplikewerkdienste-afdeling hulpbronne in gemeenskappe en fokus dienslewering op die volgende kwesbare groepe: kinders, bejaardes, persone met gestremdhede en gesinne in nood.

Ons Maatskaplikewerkdienste-afdeling lewer die volgende kerndienste binne die raamwerk van Solidariteit Helpende Hand:

  • Doelgerigte maatskaplike oriëntering, opleiding en ondersteuning aan ons vrywilligertakke
  • Professionele hantering van maatskaplike aangeleenthede in samewerking met geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies
  • Evaluering van hulpversoeke deur middel van ‘n omvattende assesseringsproses en aanbevelings wat volhoubare oplossings bied
  • Uitbou en versterking van netwerkverhoudings in die onderskeie gemeenskappe deur gemeenskapsforums saam met die volgende rolspelers te stig:
    • Skole
    • Kerke
    • Kinderbeskermingsorganisasies
    • Niewinsgerigte organisasies wat dienste in ‘n bepaalde gemeenskap lewer
  • Die opstel en uitrol van maatskaplike ontwikkelingsprogramme en -projekte in gemeenskappe
  • Die opstel van ‘n verskeidenheid hulpgidse ten einde gemeenskappe op hoogte te bring van maatskaplike aangeleenthede
  • Die publikasie van verrykende en opbouende leesstof op sosiale en ander mediaplatforms
  • Navorsing ten einde die ware behoeftes van gesinne, gemeenskappe, residensiële instansies vir seniors, persone met gestremdhede en kinders te bepaal deur middel van gemeenskapsontledingsvraelyste. Die navorsingsresultate verseker dat alle projekte en programme wat deur Solidariteit Helpende Hand uitgerol word, volhoubaar is en nie afhanklikheid skep nie.
  • Verwysing vir terapeutiese dienste wat deur Ons Sentrum gelewer word
  • Koördinering en implementering van die Bemagtig ‘n Kind-projek

Laat ons dus verenig en die wil om te help omhels, want deur saam te staan en om te gee vir mekaar en vir die mense wat elke dag ons kwesbare groepe moet ondersteun, kan ons ware en volhoubare voorspoed verseker.