Liewe Leser

Brief 51

#LieweLeser

In ons huis het Vrydagaande hand aan hand gegaan met gesinsaande. As ’n klein dogtertjie het ek altyd daarna uitgesien laat op ‘n Vrydagmiddag die dorp se alombekende videowinkel saam met my gesin te besoek en twee video-kasette uit te neem. In my oë was dit baie soos ’n biblioteek of ’n diskoteek: honderde leë videohouers wat op die rakke vir ons gereed staan om gekies te word. Sodra ons twee gekies het, het ons dit teen betaling ingeruil vir die videokassete wat veilig in ’n blou houer bewaar is. Soms het ons gesukkel om ’n keuse te maak en het die winkelassistent haar eie aanbevelings gemaak, want op grond van observasie het sy ons belangstellings vinnig leer ken.

Teen 12:00 die volgende dag moes ons die video-kassette weer indien sodat die volgende persoon dit kon uitneem. Die flieks was tydelik en ons het dit geweet, daarom het ons seker gemaak dat ons elke fliek minstens twee keer kyk.

Mettertyd het ons ouer geword en het die videokassette in DVD’s verander. Stadig maar seker het ons ons video-speler met ’n DVD-speler vervang. Ongeag die tye wat verander, was gesinsaand steeds een van die weeklikse hoogtepunte in ons huis en het die winkelassistent oudergewoonte ons  belangstellings met ’n fynoog dopgehou. Sy was later so goed dat ons verby die DVD’s reguit toonbank toe geloop en haar gevra het watter familie-flieks beskikbaar is, juis omdat sy ons voorkeure en afkeure geken het.

Daar was een Vrydagmiddag waarop ons ons nie vir ’n skielike verandering kon voorberei nie.  Met die intrapslag het ons gesien daaar staan iemand anders agter die toonbank. Op die toonbank het daar ’n foto van die alombekende winkelassistent gestaan langs ’n flou kersie wat besig was om uit te brand. Motorongeluk. Somer net so van ons weggeneem, minwetend dat ons die vorige week ’n laaste DVD deur haar sou uitneem.

Dit val my toe by dat dié dame ook ’n lewe van haar eie buite haar werk gehad het en ook in haar vrye tyd na haar eie kinders se belangstellings moes omsien. Videos en DVD’s was vir ons ’n manier van ontspanning, maar vir haar gesin was dit brood en botter. As ek eerlik moet wees het ek nooit haar belangstellings in ag geneem nie en weet ek nie watter voorkeure in flieks sy gehad het nie. Dis maklik om iemand se teenwoordigheid as vanselfsprekend te aanvaar, dis nie so maklik om aan die skielike afwesigheid van daardie persoon gewoond te raak nie. Saam met skielike verandering kom skielike aanpassing. Mag ons besef dat almal net vir ons geleen is en dat mense se teenwoordigheid ook net tydelik uitgeneem kan word.  

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5