Liewe Leser

Brief 52

Ek onthou hoe ek jare terug die heel eerste keer ’n maatskaplikewerker sien huil het. Dit was vir my vreemd om trane op die persoon se gesig te sien eerder as die daaglikse glimlag waaraan ek gewoond was.  ’n Mens moet huil, want dis hoe jou siel asem kan skep. Doen ons dit nie en ons krop die seer en trane wat daarmee gepaardgaan op, weet ek uit ervaring dat emosionele bottels net ’n beperkte hoeveelheid trane kan inhou. Hoe meer ons opkrop, hoe groter is die kanse dat selfs die grootste en sterkste bottels kan oorloop.

Soms raak die lewe net te veel en die seer te swaar. Ek verwonder my aan die pligsgetroue en onselfsugtige werk wat maatskaplikewerkers elke dag doen en hulle bereidwilligheid om met iemand se seer huis toe te gaan sonder om dit met ander te bespreek. Hoe sterk moet hulle nie wees om toe te laat dat iemand anders se seer hulle s’n word nie, en dan ook nog te sorg dat hulle sag sal bly, selfs al maak die omstandighede hulle sterk. Soms is dit moeilik om lig te bly terwyl die res van die wêreld  knie diep in die modder vassit en sukkel om vastrapplek te kry. Vertel my, liewe Lesers, hoe maak ons onsself toeganklik vir die seer wat nooit ons s’n was nie? En is ons bereid om toeganklik te wees wanneer ons wel daardie seer ontvang? 

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplikewerkers fokus op maatskaplike-ontwikkeling en bou strukture wat sterk genoeg is om mekaar te help deur hande te vat. Dit bly ’n kuns om verhoudings te bou, want sodra ons vertroue breek, is die kanse goed dat ons jare se boustene van voor af moet optel en neerlê wanneer ons eers weer gereed is. Dis moeilik, want soms is ons nie gereed nie en voel dit bykans onmoontlik om iets heel te maak wat stukkend is. Solidariteit Helpende Hand se maatskaplikewerkers sit met die bouplan en weet hoe om ’n fondasie te lê. Hulle is ingestel op basiese behoeftes, reg en verkeerd, en is gewillig om by mense te hoor wat elkeen nodig het. Wanneer laas het iemand na jou geluister met die doel om jou omstandighede te verstaan eerder as om te reageer op dit wat gesê is, liewe Leser?

Maatskaplikewerkers doen wat hulle moet, omdat hulle daarvoor geroep is. Dis hulle plig en verantwoordelikheid om veilige hawens te bou. Mag ons bereid wees om hulle met ope arms te ontvang die dag wanneer die lewe vir hulle te swaar raak en hulle emosionele bottels uiteindelik oorloop.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5