Geestelike armoede, gemeenskappe en geborgenheid
Solidariteit Helpende Hand se visie is om volhoubare welstand vir die Afrikaner-gemeenskap te verseker. Dit wil ons met finansiële, sosio-emosionele, geestelike, fisiese en kulturele opheffing bewerkstellig. Ongelukkig is armoede in al hierdie lewensareas ‘n werklikheid en funksioneer dit dikwels interaktief. As jy byvoorbeeld finansieel swaarkry, kan jy aan ‘n minderwaardigheidskompleks ly en net oorleefin plaas daarvan om voluit te leef. Ander areas van jou lewe kan gevolglik afgeskeep word, soos om geestelike bemoediging in ‘n kerk te kry en gesond te eet. Jy kan ook uitdagings soos depressie ervaar. As maatskaplike werker by Helpende Hand ervaar ek dikwels hoe mense hulle weens hul uitdagende omstandighede isoleer, wanhoop beleef en gevolglik nie hul volle potensiaal bereik nie. Isolasie lei ongelukkig dikwels ook tot maatskaplike probleme soos geweld.
Hoe kan ons geborgenheid, ‘n gevoel van emosionele veiligheid en tuishoort,in ons gemeenskappe terugbring?
Mense het God nodig, en ons as gelowiges moet sy liefde in gemeenskappe uitleef sodat ons geestelike betrokkenheid kan aktiveer. ‘n Vriendelike glimlag, bemoedigende woorde, aanvaarding van iemand wat baie anders as jy is, empatie, praktiese hulp, luisterende oor, gasvryheid – dit alles kan ‘n wêreldse verskil maak as dit ‘n gesindheid van liefde openbaar.
Die boodskap van die Woord word versprei waar verhoudings gebou word. Fokus op verhoudings sodat die Here die pad om Hom te leer ken, kan oopmaak. Dra elkeen wat Hom nie ken nie of afvallig geraak het voortdurend in gebed aan die Here op sodat hulle Hom sal leer ken of Hom opnuut sal aanneem as hul enigste Verlosser. Hoe bevrydend sal dit nie vir ons elkeen wees om die mense om ons te sien soos Jesus ons sien nie?!