Ouerskap is ‘n reis!
Deur dr. Rina Smith
Ouerskap is ‘n reis; ek en my kind reis saam op die lewenspad!
Om ‘n ouer te wees, is ‘n voorreg, maar ook ‘n verantwoordelikheid. Daarom staan elke ouer voor die vraag: Hoe kan ek ‘n verantwoordelike ouer wees?
Ouerskap roep veral twee vrae na vore: Wat is my roeping as ouer en wat laat ek my kind na?
- Wat is my roeping as ouer?
Waarom is ek as ouer hier? Wat is my roeping? Sentraal tot my roeping is die vraag: Hoe berei ek my kind voor vir die lewe? Maria Montessori het gesê: “The greatest gifts we can give our children are the roots of responsibility and the wings of independence.” Ouers het ‘n roeping om hul kinders te wortel in Christelike waardes en vir hulle vlerke van drome te gee.
Oefening
Dink aan praktiese voorbeelde hoe ouers vir hul kind “wortels” en “vlerke” kan gee. Hier onder is ‘n voorbeeld.
Wortels: Ouers leer hul kinders eerlikheid deur ‘n veilige, liefdevolle huis te skep en self altyd die waarheid te praat.
Vlerke: Hulle laat hul kinders self kies tussen aktiwiteite soos sport en kuns en ondersteun hulle besluite.
Ouers gee dus “wortels” met waardes en sekuriteit, en “vlerke” deur keuses en selfstandigheid aan te moedig.
- Wat laat ek my kind na?
Nalatenskap beteken ek as ouer moet my kind vir die lewe toerus. Hoe doen ek dit? Die toerusting sluit Christelike waardes, geloof en ‘n gesinsidentiteit in. ‘n Gesin se identiteit word teruggevind in foto’s en stories, stories wat deel van my kind se hele lewe word.
Oefening: Teken ‘n stamboom met voorgeslagte, grootouers, ouers, kinders en familie. Die stamboom vertel nie net wie die ouers is nie, maar ook wie die kinders is.
Ouersorg: Om vir my kind te sorg!
Ouerskap beteken om koesterend vir my kind te sorg. Koesterende versorging deur ouers realiseer via ‘n gesinsvisie en ‘n gesinsplan. Hierdie ouers vra: Watter belegging kan ek in my kind maak? En die antwoord: koesterende sorg!
Koesterende sorg
Die Nurturing Care Framework is in Mei 2018 deur die 71ste World Health Assembly aangeneem. Dit bied ‘n padkaart vir koesterende sorg en rus ouers, versorgers en gemeenskappe toe om koesterend vir kinders te sorg totdat hulle uiteindelik kan sê: “Ons kinders hetwortels en vlerke!”
Hoe realiseer koesterende ouersorg?
Volgens die Nurturing Care Framework moet daar op vyf terreine gefokus moet: sekuriteit en veiligheid, responsiewe sorg, vroeë leer en stimulering, goeie gesondheid, en voldoende voeding.
Oefening: Hoe lyk jou ouerlike padkaart? Is daar voorsiening gemaak vir stilhouplekke langs die pad?
Die volgende twee terreine word uitgelig:
- Responsiewe sorg
Responsiewe sorg dui op ‘n veilige gesinshawe waarbinne ouers met liefdevolle sorg op kinders se gedrag reageer. Hierdie sorg kom veral tot sy reg gedurende gesinstyd. Gesinstyd beklemtoon saamwees, saam gesels en saam doen as gesin soos om saam te eet, saam speletjies te speel en saam aktiwiteite aan te pak. Dit is belangrik dat ouers nie net reageer op dit wat kinders sê en doen nie, maar ook op wat hulle nie sê en doen nie.
Responsiewe sorg vra van ‘n ouer: sien en hoor die kind, luister met begrip en reageer gepas en liefdevol.
Oefening: Dink aan kreatiewe maniere om responsiewe sorg toe te pas. Hier onder volg ‘n voorbeeld:
- Sit jou foon weg. Hierdie tyd is net vir jou en jou kind.
- Vra vir jou kind: “Wat wil jy hê moet ons nou saam doen?”
Laat die kind kies – speel, gesels, lees, legkaart bou, ens.
- Volg jou kind se leiding – moenie beheer oorneem of jou kind korrigeer nie
- Reageer met warmte en belangstelling op jou kind se emosies en gedrag.
Vra vrae soos: “Hoe het jy dit gebou?” of “Vertel my meer.”
- Eindig deur jou kind liefdevol te bevestig: “Ek het dit baie geniet om met jou tyd te spandeer.”
- Vroeë leer
Effektiewe vroeë leer is die beste belegging in die toekoms van ‘n kind. Dit is belangrik dat kinders van vroeg af, voor formele skool, bepaalde begrippe en vaardighede soos taal/woorde aanleer, sosiale vaardighede soos luister en Christelike waardes soos liefde.
Dat kinders aangemoedig moet word om te lees, word sterk beklemtoon. Wanneer ‘n kind lees of selfs net na ‘n voorlesing luister, neem dit die kind na nuwe hoogtes soos die aanleer van taal/woorde.
Moenie die waarde van spel onderskat nie. Spel is ‘n sleutel wat kinders aanmoedig en stimuleer om ondersoek in te stel, oplossings vir probleme te soek en leer om saam te speel.
Oefening: Voor slaaptyd lees ma of pa ‘n kort storie met ‘n waardetema, soos liefde of vriendelikheid. Daarna speel hulle saam met die kind met poppe of teddiebere en boots die storie na.
Die kind leer die volgende:
- Nuwe woorde en taal
- Sosiale vaardighede soos luister en deel
- Christelike waardes in aksie
- Probleemoplossing deur spel
Ons gemeenskap:”It takes a village to raise a child’.”
Ouersorg is ‘n reis wat veel wyer strek as die gesinswoning. Kinders word groot binne die ruimte van ‘n woonbuurt en ‘n gemeenskap. Hierdie sogenaamde “village” dra op een of ander wyse by tot die welsyn van jou kind. ‘n Gemeenskap bied ‘n verskeidenheid ervarings wat meehelp om die kind se ervaringswêreld uit te brei.Oefening: Vra jou kind om “ons gemeenskap” te teken. Onthou: elkeen van ons het ‘n kaart van ons gemeenskap in ons kop.