[Artikel] Glo jy regtig in jou geloof? #WaardesWatWerk

Rene Roux Bestuurshoof: Media

Solidariteit Helpende Hand

Dié Bybelvers is aan almal goed bekend: “En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ʼn mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan weg hiervandaan daarnatoe!’ En hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” – Matteus 17:20 Maar het jy werklik al gesit en dink dat jou geloof regtig berge kan versit? Glo jy werklik jy kan? Dit klink onmoontlik, maar die waarheid is dat dit wel moontlik is want God maak alles moontlik, soos ons weet. In my roeping by Solidariteit Helpende Hand sien ek elke dag hoe ʼn mens in geloof besluite moet neem.

Wanneer jy op ʼn paneel sit en moet kies wie gehelp word en wie nie, is dit nie nommers voor jou nie. Nee dit is kindergesigte. Dit is die foto van ʼn kind wat leef met ʼn gestremdheid wat na jou staar en wat ook in jou drome plek vind. Dit is die hande van ʼn bejaarde persoon wat saggies langs haar rus op haar bed. Dis die beeld van ʼn gesin wat elke dag laat aand huis toe kom na koeranteverkoop en niks op die tafel het om te eet nie. Dit is die student wat elke aand bid vir ʼn kans, net een kans om die kettings van armoede te verbreek deur ʼn geleentheid om te gaan studeer. Dit is die voete van ʼn seuntjie wat kaalvoet skool toe loop met die wete dat hy geen potlood in sy tas het om sy toets mee te gaan skryf nie.

En dit is hier waar ons dan besluite in geloof neem en help soos ons kan met die hulp vanuit die gemeenskap. En hierdie foto’s, beelde, gedagtes na behoefte skilder ʼn kunswerk van wanhoop. En die verf skree van armoede en hartseer. Die raam wat hierdie kunswerk omvou, kraak elke dag al verder tot dit van die hakkie af val en flenters lê op die grond van ʼn land wat se staat nie help nie. ʼn Land wat se geloof soms te stil geraak het. Dit is dan wanneer besluite in geloof geneem moet word. Of is dit? Moet hierdie besluite nie dalk geneem word voordat die kunswerk vol kinders op die grond beland nie?

Dit is waar ek glo geloof intree – wanneer jy besluite neem om iets te voorkom. Ek glo dat wanneer ons hierdie kinders, bejaardes, persone met gestremdhede en gesinne vroegtydig kan vang voor hulle val, sal jy kan keer dat hulle reeds gebroke voor jou staan. Ongelukkig is dit nie hoe dit altyd werk by Solidariteit Helpende Hand nie. Ongelukkig ontvang ons reeds gebroke persone. Maar deur te let op wat hulle gebreek het, spreek ons dit in geloof aan. Ons is gevestig op die sterkste rots en dit is die woord van God – en met dit kan ons berge versit. Met ons 200 mosterdsaadjie-takke, ons 130 mosterdsaadjie-Ons Winkels, ons sewe mosterdsaadjie-nasorgsentrums, ons mosterdsaadjie-maatskaplike werkers, -projekte en – programme. Met hulle bereik ons daagliks die onmoontlike.

Dink net – as jy geloof kan hê soos een saad, hoeveel te meer as jy al hierdie bymekaar gooi en dit saai… Solidariteit Helpende Hand se jaar-tema is Waardes Wat Werk. April en Mei fokus ons die tweede van vyf waardes wat ons geïdentifiseer het en dit is geloof. Maar dit is nie net vir ons ʼn jaar-tema nie, dit is daadwerklik vir ons ʼn waarde wat so diep vervleg is met ons roeping. Ons is Afrikaans, ons is Afrikaners, ons is gelowiges. Ja, natuurlik wankel en twyfel ons ook soms in ons geloof. Daar is nie eintlik spasie hiervoor nie, maar dit gebeur. Partymaal is ons almal ʼn ongelowige Thomas – maar steeds bou ons ons instelling op Sy rots, steeds bly ons gehoorsaam aan wat ons moet doen al het ons talle foute en tekortkominge. Deur mekaar te dra in geloof help, deur geloof te saai help en deur te erken dat iets nie in geloof gedoen is nie help. Dit help om ons eie ongeloof te erken, sodat ons ons geloof kan herken, sodat ons ander kan help in geloof. Josua 10:12-14 lees: “Ten aanhore van Israel het hy gesê: ‘Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!’ Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het.

Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna ʼn volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. So ʼn dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir ʼn mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.” Hierdie het my soveel nuwe hoop gegee. Josua het geloof gehad dat God die son kan laat stil staan en sorg dat die maan nie roer nie. En hy het gewen as gevolg van sy geloof. Ek glo dat wanneer ons aanhou om sake, besigheid en weldaad te doen in geloof sal ons volgens ons roeping en skeppingsdoel bereik wat God wil hê ons moet.

Dan sal ons die wêreld verander. Soms moet ons ook onsself in situasies van geloof plaas. Ek was op 7 April by PassieVol wat Moreleta Kerk en Voelgoed Media aangebied het. Waar 6 000 mense die seën gesing het. Hier versterk ek my geloof. Deur die Netflix-reeks The Chosen te kyk versterk ek my kennis en geloof, deur my Bybel te lees en gepaste podsendings te luister, deur te bid en deur te vra dat die Here ook my geloof sal versterk. Het ons land, soos in Sameul se kindweestyd, ook dalk net stil geraak vir God of sal ons dapper in ons roeping leef soos die kind Samuel en getuig – “hier is ek Here, U dienskneg luister”?

Sal ons in geloof luister en glo ons is die mosterdsaad wat berge kan versit en die son en maan laat stil staan deur bloot geloof te hê? Besoek gerus www.ondersteunons.co.za en word deel van ʼn waarde gedrewe instelling wat daagliks in geloof ons roeping leef.