[Mediaverklaring] Helpende Hand se droom vir 2024: Waardes wat werk

Solidariteit Helpende Hand, ‘n organisasie wat op die opvoeding, opleiding en ontwikkeling van gemeenskappe fokus, het pas sy tema vir 2024 bekend gemaak: Waardes wat werk. Die organisasie wil sy personeel, taklede, ondersteuners en donateurs daarvan bewus maak dat hulle waardevol is omdat die Here hulle waardevol gemaak het, en dat hulle hul Christelike waardes kan en moet uitleef. “Vir Helpende Hand is waardes die fondasie van die huis wat ons in ons gemeenskappe wil bou,” het René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, by ‘n intieme geleentheid gesê. “Die Here is die rots op wie ons bou, en geloof groei vanuit die Bybel wat al ons waardes bepaal. Ons glo dat as ons fondasie stewig is, kan ons verder aan ons huis bou deur goeie ouerskap, leierskapsontwikkeling, selfontwikkeling, die ontwikkeling van entrepreneursvaardighede en baie ander vaardighede.” Roux het ook ‘n onderskeid tussen wêreldse en Christelike waardes gemaak. Sy het gesê dat wêreldse waardes dikwels gebaseer is op mag, aansien en bedrog, terwyl Christelike waardes gebaseer is op roeping, dankbaarheid en nederigheid. Sy het ook gemeenskappe aangemoedig om die goeie na te streef uit dankbaarheid vir die Here wat vir die mens waardes gee.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het by die geleentheid gesê die organisasie se waardes word uitgebeeld op sy embleem – ‘n hand wat gee. Elke vinger simboliseer ‘n waarde. Dit is roeping, geloof, uitnemendheid, getrouheid en nederigheid. “Hierdie waardes het Helpende Hand se identiteit gevorm en dien as kompas vir ons gesamentlike groei.” Hy sê Helpende Hand leef die waardes elke dag uit en dit vloei uit ‘n hand van liefde:

Roeping Ons toewyding aan ons werk is meer as net ‘n werk; dit is ‘n roeping. In 2024 sal ons ons sin vir roeping erken om te verseker dat elke taak wat ons aanpak, bydra tot ‘n groter doel. Ons werk behoort ‘n uitdrukking te wees van ons passie en toewyding. Geloof Ons onwrikbare geloof in ons Vader in die Hemel, ons missie en in mekaar is ‘n getuienis van die sterkte van ons organisasie. In die komende jaar, laat ons ons geloofslewe, geloof in onsself, ons vermoëns en in mekaar verdiep. Saam kan ons uitdagings oorkom en nuwe hoogtes bereik. Uitnemendheid Die strewe na uitnemendheid lê aan die kern van ons pogings.

In 2024 sal ons voortgaan om hoë standaarde te stel om uitsonderlike resultate te lewer in ons organisasie en ons gemeenskappe. Ons toewyding tot uitnemendheid maak dat ons elke saak, aksie en poging wat ons aanbied deurdink, goed neersit en met ywer sal volhard. Getrouheid Laat ons getrou bly aan ons roeping en doel, ons beloftes, en ons verantwoordelikheid en ons take nakom. Met integriteit en deur betroubaarheid sal ons getrou bly aan ons diens. Nederigheid In die komende jaar, laat ons nederig werk, vir ‘n doel groter as onsself. Laat ons uit nederigheid optree en aantree, en nie die beloning en erkenning van mense najaag nie, maar van die groter doel. Uit nederigheid en dankbaarheid sal ons ons deel doen.

Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Jak de Priester, het in ‘n video sy steun aan Helpende Hand se tema gegee en sy liedjie, “Liefdeslied” daarvoor opgedra. “Ek ondersteun 100% Helpende Hand se tema vir 2024. Dit is belangrik in my geval, want my kinders raak nou die ouderdom waar hulle gekonfronteer word met die goed wat daar buite gebeur. ‘n Groot waarde vir ons is verdraagsaamheid. Baie dankie dat julle my liedjie gebruik. Ons moet liefde in die moeilike tye gee,” het De Priester gesê.

Klik op die onderstaande video vir sy volle boodskap. Helpende Hand nooi almal wat belangstel om deel te word van hul droom vir 2024 om www.ondersteunons.co.za te besoek.