#LieweLeser

Brief 63

Ek het die voorreg gehad om sowat drie weke gelede saggies deur ’n Familie-bybel te blaai. Dié ou Nederlandse Bybel dateer vanuit die vroeë 1800’s. In daardie jare was die Bybels besonder dik en swaar. Vandag lees ons die Bybel op ons fone en is die blaaie dun en lig genoeg om die Woord met net een hand te dra. Die vraag is nie noodwendig hoe groot die Boek is nie, maar eerder of die gewig van die Boodskap vir ons swaar genoeg is om in te sink.

In my skooldae het ons elke Maandagoggend ons tasse voor die klasse in ’n ry gelos en pligsgetrou vir saalopening aangetree. Sodra al die kinders hul sitplek in die saal gekry het, het ’n onderwyser of skoolleier vir ons uit die Bybel gelees en met gebed geopen voordat die afkondigings gemaak is. Die res van ons skoolweek het ons ons oggende met ’n kort gebed en Skriflesing in die klaskamer afgeskop, klasse gewissel, pouse gehou en vyf minute voordat die laaste skoolklok gelui het,met ’n gebed oor die interkom afgesluit. Boonop in Afrikaans ook nog!

As ek terugkyk besef ek net weer hoe gelukkig ons was om ons geloof nie net in die klaskamer te kon uitleef nie, maar om dit ook sorgvry in ons Moedertaal te kon doen. Vandag lyk dinge ’n bietjie anders en beskerm ons ons kinders waar ons kan.

Vir die eerste keer sedert Liewe Leser se bestaan, gaan ek ’n standpunt inneem.

Alhoewel dit steeds ouers se plig is om hul kinders by die huis aan godsdiens bloot te stel, is dit nie vir elke kind beskore nie. Van ons leerlinge sit in verbrokkelende gesinne of sien hul ouers weens ekonomiese druk maar min. Dis dus heeltemal moontlik dat kinders op hul skole staatmaak om aan waardes en godsdiens blootgestel te word. Dit bly vir skole en ouers ’n uitdaging, want selfs ons moedertaal word nou as ’n voorreg beskou en nie meer ’n reg nie.

Solidariteit Helpende Hand se jaartema is Waardes wat Werk en dit ondersteun my standpunt. Dis broodnodig om ons kinders toe te rus met ’n stewige grondslag van waardes sodat hulle dit kan toepas en ‘n goeie karakter ontwikkel.   

Ek sê Afrikaanse onderrig met ’n Christelike grondslag moet bly!

Wat sê jy?

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5