#LieweLeser

Brief 58

Ek het vir ‘n kort rukkie tydens my laerskoolloopbaan aan skaak deelgeneem. Alhoewel ek nie baie daarin belangestel het nie, was ek nuuskierig genoeg om meer daaroor te leer. Een skaakspel wat ek teen ’n seuntjie moes speel, bly nou nog by my by. Oudergewoonte het ek voor die skaakspel ’n vinnige gebed opgesê en vir God gevra dat ek moet wen. Dit was nie lank nie of die seuntjie het “skaakmat” uitgeroep. Dit was die eerste keer wat ek in ’n skaakkompetisie verloor het tenspyte van my gebedsversoek wat ek aan God gerig het …

Toe al die spelers uiteindelik kon opstaan, het dié seuntjie na sy vriende gehardloop. Ek het die groepie dopgehou en die groot oë in elke vriend se gesig gesien. Daarna het hulle na my gekyk en haastig na my toe gestap en opgewonde gevra of hy my régtig gewen het. Nadat ek die uitslae bevestig het, het die wenner se vriende hom op die skouers geklop en ligte danspassies uitgevoer. Dis wat gebeur as ons gelukkig is – ons dans! Dit val my toe by dat dit die eerste keer was wat hierdie seuntjie ’n skaakspel gewen het en dat sy vriende daar was om saam met hom in dié vreugde te deel. Ek sal die glimlag op sy gesig nooit vergeet nie. 

Na dié skaaktoernooi het ek nie weer by die skaakspan ingeskakel nie en besluit om eerder aan dansklasse deel te neem. Ironies, is dit nie? Ek het vanaf my laerskoolloopbaan regdeur tot en met matriek  aan dansklasse deelgeneem en op danseksamens, -kompetisies en -konserte floreer.

Soms maak ons verkeerde skuiwe en bid ons met die verkeerde intensies – selfs al besef ons dit nie dadelik nie. Een van die beste skuiwe wat ons egter kan maak is om volgens Spreuke 3:5-6 te leef en   God in alles te ken wat ons doen. Doen ons dit, sal Hy ons paaie gelykmaak.

Hilde

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5