LieweLeser
Brief 56
Die seisoene is besig om te verander en ons betree ook ’n nuwe seisoen. Soms is verandering nodig, selfs al hou ons nie altyd daarvan nie. Dit laat my dink aan N.P. van Wyk Louw se bekende gedig “Vroegherfs”.
Vroegherfs
N.P. van Wyk Louw
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
In dié gedig skets N.P. van Wyk Louw ’n herfsprentjie oor die verandering van seisoene wat hy in die Boland sien. As ons verder lees, kom ons agter dat die digter besig is om ’n gebedsversoek aan God te skryf en Hom vra om hom te stroop van alles wat oneg is. Soms is ons versigtig vir verandering, omdat ons nie weet watter groeipyne dit vir ons inhou nie, daarom doen ons dit in die geloof.
Wanneer verandering plaasvind, kan ons anders daaroor begin dink.
Selfs al is die moontlikheid daar dat konstante verandering onsekerhede in ons kan skep, kan ons met absolute sekerheid weet dat God onveranderd sal bly.
Hilde
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5