Maatskaplike werkers is ook mense.

Geskryf deur Marthie Maritz

Maatskaplike werkers kan ’n boek skryf oor alles wat hulle al beleef het. Soms is dit hartseer verhale vol teleurstelling en ander kere is dit vreugdevolle suksesverhale.

Soms ontmoet hulle rowwe diamante vir wie die lewe net ’n skuins klap gegee het. Ek ontmoet vir Stienie (skuilnaam) en haar kinders so nege jaar gelede. Sy het baie kinders gehad. Ek sê “gehad”, want sy is nie meer met ons nie. Daar was agt van die sieletjies, elkeen met ’n ander pappa. So ’n tipiese voorbeeld van ’n vrou wat ’n man nodig het om te oorleef. En sy moet altyd swanger wees.

Stienie was een van daardie rowwe diamante. Wild. Sou jou sommer met iets bykom, veral as jy “welsyn” sê. Sy het jou gou reggehelp: “Nee, dis welfare.” Dan was dit oorlog! Maatskaplik het ook nie gepas nie. Dit is bose mense en hulle kom om te vernietig. Die taalgebruik het my soms laat glimlag, al moes ’n mens dan nou ernstig wees. Sy het almal “antie” of “tannie” genoem, al was sy ouer as hulle. Dis maar haar manier om respek te betoon. Haar kinders was in die kinderhuis – die hele streep van hulle. As hulp- maatskaplike werker was my rol om die maatskaplike werker te ondersteun; ek was nie betrokke by die hofproses en die plasing van kinders in die kinderhuis nie.

Eendag was dit weer ’n wilde dag: oproep na oproep na die kantoor met skeltaal uit ’n ander woordeboek.

Ek en een van die maatskaplike werkers het haar later gaan besoek. Ek het ’n Bybel saamgevat en vir haar gevra of sy ’n Bybel het. Die antwoord was ja, daar êrens onder in die kas. “Gaan haal daardie Bybel,” sê ek vir haar. Na al die intervensies en gesprekke was dit al raad wat ek oorgehad het. Die Here is jou herder. Sy was eers dikmond oor die Bybel-versoek. Terwyl ek na die maatskaplike werker wys, sê ek vir haar: “Maatskaplike werkers is ook mense. Hulle het ook harte en daar vloei bloed deur hulle are. Hulle voel ook soms hartseer wanneer slegte goed gebeur en hulle is bly as goeie goed gebeur.”

Daar was iets in haar oë toe ons daar wegry. Ek twyfel of sy alles verstaan het. Maar daarna, tot die dag van haar dood, het sy die maatskaplike werkers wat aan haar diens gelewer het soos mense behandel. As een mens dit begryp en saamwerk, is dit al ’n begin.