Uit die dagboek van ’n maatskaplike werker – die ervaring van ‘n maatskaplike werker

Alna

“Ek is 12 jaar oud en woon saam met my ouers en broers. My een broer is saam met my in die skool. Hy is 10 jaar oud, en ons is in dieselfde graad. My broer is slim, maar skool is swaar vir my. My ma kan nie werk nie, maar my pa werk elke dag. My pa sê ek het die mooiste oë. Hy belowe vir my alles wat ek graag wil hê.

Eendag het ’n maatskaplike werker na my toe gekom by die skool. Sy was vriendelik, en het ’n klomp vrae gevra. Ek het amper alles geantwoord. Nadat sy by die skool was, was my ma so kwaad dat sy my by die huis gehou het. Sy het gesê die maatskaplike werker gaan my en my broer “afvat” en in ’n weeshuis sit. Dit het met my een suster gebeur toe my pa haar aan ’n ander man verkoop het. Dis wat ek gehoor het, maar ek verstaan nie wat dit beteken nie.

Later het my ma my weer teruggestuur skool toe, en die maatskaplike werker  het weer gekom. Sy het met my en my broer gepraat, en daarna is ons na my oudste suster toe geneem. Ek is baie lief vir my suster, maar ek het baie na my pa verlang. Ons is hof toe. My pa was nie daar nie, en my ma was kwaad vir die magistraat.

Die maatskaplike werker het vir my kom kuier by my suster. Ek wou vir haar kwaad wees omdat sy my weggevat het by my pa, maar sy was te vriendelik. Sy het met my gespeel en gesê sy wil hê ek moet gelukkig en veilig wees. Sy wou hê ek en my broer moes in die hof teen my pa gaan praat. Ek verstaan nie hoekom nie, want my pa het niks verkeerd gedoen nie. Hy het net by my geslaap sodat ek nie bang hoef te wees in die nag nie. Hy het my lekker laat voel. Ek slaap nou met ’n teddie en doen met die teddie wat my pa met my gedoen het. Ek hoop ek sal weer kan teruggaan na my pa toe. Hulle moet hom nie toesluit nie. Ek haat my ma.”