Liewe Leser

Brief 10

In my kinderdae het ek gereeld handgemaakte en tweedehandse rokke gedra – nie omdat ons min gehad het nie, maar bloot omdat my ma se vriendinne se dogters ouer as ek was en hulle die klere vir my geskenk het sodra hulle kinders dit ontgroei het. Ek is van kindsbeen af geleer om buitensporig dankbaar te wees vir die kleinste geskenkies, daarom het hierdie oorhandigings altyd vir my soos ’n tweede Kersfees gevoel. Vandag skenk ek my klere aan Helpende Hand se naaste Ons Winkel. Miskien maak dit iemand ook so buitensporig gelukkig en gee hulle die ou klere nuwe lewe.

As kleuter het ek verkies om kaalvoet te loop en my hare kort te dra. Ek het boom geklim en ’n hele paar keer van my fiets afgeval. Ek het kleilat gespeel, soms met kleigrond en soms met beesmis, en het met groot moeite ook wegkruipertjie baasgeraak. Dit was nie vir my nodig om myself te blok nie, want ek was ’n sorgvrye kind, veilig onder my ouers se dak en tevrede met ’n eenvoudige lewe, want my verbeelding was sterk genoeg. Ja, liewe Leser, ek was bevoorreg en is vandag innig dankbaar dat ek nooit honger gaan slaap het nie.

Ongelukkig draai die lewe nie vir almal so uit nie en is daar kinders wat in moeilike omstandighede gebore is. Kinders wat op een ete per dag staatmaak en elke aand bang gaan slaap. Kinders wat vroeg geleer het dat nie alle mense goeie mense is nie en dat speletjies soos wegkruipertjie hul lewens kan red. Kinders wat verstoot is deur die mense wat veronderstel was om na hulle om te sien en wat ewe skielik op ’n baie jong ouderdom die rol van ’n ouer moet inneem, omdat hulle weet dat boetie en sussie iemand nodig het.

Hoe kan ons dit regverdig, liewe Leser, om in ’n wêreld te leef wat jou niks skuld nie, selfs al het die wêreld jou kwaad aangedoen? Ons almal het ’n storie en ons almal het op een of ander manier seergekry. Ons kan dit nie vergelyk nie, want  seer bly seer.

As daar een ding is wat ek vir my jonger self kan sê, sal dit die volgende wees:
“As dit jou vrede kos, is dit te duur. Werk spaarsamig met jou tyd en benut jou talente ten volle. Wees vreesloos in dit wat jy doen en pak elke geleentheid met ’n dankbare hart aan, want iewers in die wêreld is daar kinders wat wonder wat hulle verkeerd gedoen het om in ’n wêreld, wat soveel skade kan aanrig, te leef.”

Hilde
Helpende Hand