Liewe dagboek …

Geskryf deur Marla Louw

Vandag was ’n goeie dag, beter as party ander dae … Vandag kon ek die verskil wat ons in die gemeenskap maak voel. Dit was tasbaar, “raak aan my siel” mooi. Jy is seker nou lekker nuuskierig oor wat gebeur het … Kom ek vertel jou!

Daar is ’n dame … Kom ons noem haar *Debbie. Nou Debbie het nie ’n lekker lewe gehad die laaste paar jaar nie. Sy was deurmekaar met ’n man wat aan dwelms verslaaf was en haar ook in die bose ingetrek het. Die man het haar seergemaak wanneer hy onder die invloed van drank of dwelms was, en sy moes haar enigste dogtertjie laat aanneem, omdat hul huislike omstandighede nie geskik was vir klein mensies nie. Vir geen mens eintlik nie …

Nie te lank gelede nie besluit Debbie: GENOEG IS GENOEG! Sy het die man nie nodig nie. En daar pak sy haar goed en vlug na ’n klein dorpie in Mpumalanga. Die dorpie sukkel self en die werksgeleenthede is maar min, maar die Here weet wat Hy doen! Debbie kontak my en vra vir hulp. Sy vertel dat sy gevlug het en al wat sy vra is ’n kospakkie en ’n nuwe paar skoene. Onmiddellik is ek op die foon en maak kontak met ons tak daar. Daardie voorsitter staan vir niemand en niks terug nie en spring toe dadelik aan die werk om vir Debbie te help.

Dit kom toe aan die lig dat Debbie haar eie mikrobesigheid het en items probeer verkoop vir ’n ekstra inkomste. Sy sal self! Ons takvoorsitter, ook bekend as ’n engel-mens, bied aan om die logo, bemarking en beeld van die besigheid so ’n bietjie te verbeter. En toe ek my oë uitvee, het Debbie klere met haar nuwe logo op, die mooiste houertjies en plakkers vir haar ware, en Debbie se mikrobesigheid verander in ’n volskaalse besigheid! Sy maak nou haar eie geldjies en is van niemand meer afhanklik nie. Daar is nog dae wat Debbie ’n bietjie sukkel en wat haar moed in haar skoene sak, maar sy gaan lê nie. Vandag was ’n goeie dag! Vandag het ek gesien hoe iemand met ’n klein bietjie hulp weer SELF kan opstaan. Ek is trots op hierdie gemeenskap, ek is trots op hierdie vrou en ek is trots daarop dat ek my hand uitsteek en ’n klein aandeel in hierdie mooie storie kon hê.