“Van aktiewe, onafhanklike na passiewe, afhanklike leefwyse” Geloof, genade en hoop

WIL OM TE HELP-ARTIKEL – S. FERREIRA

Ek het grootgeword met ouers wat baie lief was vir ons vier kinders, maar wat ons geleer het om selfstandig te wees en ons eie “battles” te “fight”, ongeag die omstandighede.

My ma het gewerk en was altyd besig. Haar lewensmotto en uitkyk in die lewe is “groet almal, want dit kos niks” en “wees altyd die minste”. Sy het daarom ook geen vyande in haar lewe nie, maar het al baie hartseer ervaar en moes deur moeilike omstandighede steeds staande bly.

Haar eerste man, pa Sep, is oorlede in ’n motorongeluk toe ek drie jaar oud was en my sussie twee. Geen siekte nie, net skielik en onverwags oorlede. Sy is later, toe ek skoolkoshuis toe moes gaan, weer getroud met die wonderlikste man. Pa Jan het ons dogters met ope arms verwelkom, en uit die huwelik is ’n broer en sussie vir ons gebore. Pa Jan en ma Sanet het ’n wonderlike lewe saam gehad. Hulle het nooit ooit enige verskille gehad nie, aangesien tyd saam vir almal kosbaar was. Pa Jan is ook skielik op die ouderdom van 47 aan ’n hartaanval oorlede. Ek was toe 20 jaar oud. My ma was verpletter, maar het die rouproses met die ondersteuning van wonderlike vriende moedig deurloop. Sy het ons kinders goed versorg en moes ons almal deur die universiteit en skool kry, daarom het sy aanhou werk totdat sy 65 jaar oud was.

Elke keer as ons kinders en kleinkinders deur ’n beproewing gaan, is sy daar vir elkeen. Sy het al die jare alleen gewoon en rondgery soos nodig. Deur die jare het sy steeds blymoedig gebly en ons aangemoedig en gemotiveer deur haar Christenskap uit te leef. Sy het ons telkemale laat besef dit is gebed wat haar laat staande bly. Sy leef na aan die Here en deur haar gebede raak elke kind en kleinkind sterker en kan deur moeilike tye gaan.

Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy is naaldwerkster, breier, kosmaker, onderwyser, raadgewer, planmaker en trooster, die rots en bemiddelaar in ons familie sowel as ander se lewens. Sy praat daagliks telefonies of op WhatsApp met elke kind en gebruik selfs sosiale media om positiewe kommentaar te lewer op al ons plasings. As sy die dag self moedeloos, onseker of onveilig voel, gebruik sy haar Bybel as instrument om positief te bly.

My ma was in haar hele lewe nooit siek of afwesig van die werk nie. Sy was altyd ’n gesonde mens, maar in Oktober 2021 is sy met aggressiewe baarmoederkanker gediagnoseer. Ons was verpletter. Steeds was sy blymoedig en het geglo sy sal gesond word. Haar eerste operasie is in November gedoen en in Desember is met chemo, bestraling en bragiterapie begin. Ses weke later was sy swak en maer, maar het steeds geglo sy sal gesond word. Sy het nooit gekla nie, was nooit kwaad, ongeduldig of mismoedig nie.

Toe kom die wagtyd van drie maande, en in Maart 2022 is sy terug vir toetse. Die uitslag was oorweldigend: Ons is meegedeel die kanker het na die dunderm en dikderm versprei. Nuwe, sterk chemo is onmiddellik aanbeveel. Sy is meegedeel dat sy nog ses behandelings moet ondergaan. Met die eerste chemo-sessie is sy in die hospitaal opgeneem omdat sy baie swak was; haar tellings was laag en sy het moeilik begin loop. Na die tweede chemo-sessie het sy begin struikel en gesukkel om alleen te beweeg. Die chemo het haar mobiliteit verswak en sy het ’n loopraam gebruik om te beweeg, maar sy het meestal gelê weens die erge pyn. Tussen die derde en vierde chemo-sessies is sy weer in die hospitaal opgeneem en in ’n rolstoel geplaas aangesien daar nie meer gevoel, sensasie of sensoriese gevoel in haar bene was nie. Tans is sy ’n parapleeg of halwe kwadrupleeg, bedlêend en kan slegs met ’n rolstoel beweeg.

Ons kinders is verpletter; sy self ontken die verlamming. Medies gesproke kan ’n operasie nie oorweeg word nie, aangesien daar ’n kans is dat sy tydens die prosedure kan beswyk. Die onkoloog het ’n rehabilitasiesentrum voorgestel en sy is vir ses weke opgeneem. Tydens die terugtreefase is sy voorberei op haar nuwe lewenswyse en die familie is voorberei op haar ontslag. Die rehabilitasiepaneel het besluit dat sy na haar tuisdorp moet terugkeer – ongelukkig na die ouetehuis toe, aangesien sy 24 uur per dag versorging benodig en nie alleen kan regkom nie. Haar rolstoel is boonop te groot vir standaarddeure en daarom kon sy ook nie na haar huis terugkeer nie – dit is nie toeganklik vir ’n gestremde persoon in ’n rolstoel nie.

Baie trane het gevloei en sy was baie ongelukkig. My ma was verslae en het ons kinders kwalik geneem; ons het dan altyd gesê die ouetehuis sal die laaste uitweg wees en ons sal haar nooit daarheen stuur nie. Maar nadat ons vir haar verduidelik het dat haar versorging en die kostes daaraan verbonde dit noodsaak, het sy dit gelate aanvaar. Ons het vir haar ’n pragtige sonskynkamer gekies wat ruim genoeg is vir baie vriende en kuiergaste wat haar wou besoek.

Net voor die ontslagdatum is sy deur die onkoloog en ander mediese dokters gestuur om die verspreiding van die kanker te ondersoek. Groot was ons verbasing toe hulle ons meedeel dat sy skoon is en dat daar geen kanker meer sigbaar is nie. Sedertdien is daar weer toetse gedoen en steeds is daar geen kankerselle in haar liggaam nie. Wat ’n groot wonderwerk!

Vandag is my ma positief oor die lewe. Sy is steeds ons kinders se oor om te luister. Sy bemoedig haar kleinkinders en bel ons almal daagliks om te hoor hoe dit met ons gaan. In die ouetehuis is sy die bemiddelaar by wie mense bieg oor hul probleme, en deur haar geloof en Christenskap is sy altyd sterker as almal en positief oor die lewe. Medies gesproke sal sy nooit weer loop nie, maar haar geloof is sterk en sy glo sy sal weer eendag kan staan en daarna loop. Sy is geseënd met gereelde gaste wat daagliks vir haar gaan kuier en sy raak nooit negatief oor haar omstandighede nie.

Hierdie storie van geloof, genade en hoop maak my sterk. Ek glo sy help ander in dieselfde omstandighede om positief te wees.