Uit die dagboek van ’n maatskaplike werker …

Chantell Wiesner

Sy het nog nie eens haar eerste koppie koffie vir die dag gedrink nie toe is die telefoon reeds aan die lui. Die tweede oproep wat deurkom, is ’n oproep om hulp – ’n egpaar is pas met hulle baba in ’n stootkarretjie in ’n bekende dwelmhuis in die stad in. Die inbeller noem dat die huis gevaarlik is en dat die maatskaplike werker maar eerder die polisie moet saamneem.

Die polisie “… het ongelukkig geen voertuie op dié stadium beskikbaar nie, maar ons stuur ’n voertuig so gou moontlik, Mevrou.” Sy en ’n kollega besluit dat die baba se lewe moontlik in gevaar mag wees en hulle besluit om self die adres te trotseer, want maatskaplike werkers is baie slim en waagmoedig.

Vol selfvertroue en gereed vir aksie klop hulle aan die deur. Aanvanklik is daar geen antwoord nie en hulle klop weer. ’n Dame maak die deur oop en hulle vertel haar van die klagte. Die dame antwoord: “Ons het geen kinders hier nie.” Die maatskaplike werkers dring daarop aan om ’n tuisbesoek te doen en die omstandighede te ondersoek. Hulle sien geen kinders in die huis nie, maar … Daar is ’n geslote deur wat nie oopgemaak word nie. Die maatskaplike werkers versoek dat die deur oopgemaak word. En toe word hulle oorrompel – deur 14 viervoetige (honde)kinders! En daar in die kamer staan die stootkarretjie. Dit is nie net leeg nie, maar dit lyk ook ’n bietjie anders as ’n gewone babawaentjie. Dis ’n troeteldier-stootwaentjie, want Prinses het suikersiekte en kan nie ver stap nie.

Dankie tog daar was geen polisievoertuig beskikbaar nie! Gelukkig is daar altyd iets om voor dankbaar te wees.