Pleegsorg gee kinders stabiliteit

Elke kind het ‘n innerlike behoefte om versorg te word, om veilig te voel en om te behoort. Ons is immers mens, en dus gemaak om te behoort.

Die eerste plek waar ‘n kind hierdie geborgenheid beleef, is in die huisgesin. Wanneer kinders in die veilige hawe van hulle huisgesin geborgenheid ervaar, beleef hulle sekuriteit, welstand en stabiliteit. Jou huis is tog ‘n rusplek waar jy kan asemhaal en ontspan. Ongelukkig is dit nie vir alle kinders die realiteit nie. Baie word groot in gebroke huishoudings waar hulle daagliks die trauma van mishandeling en verwaarlosing ervaar. Hulle huis word dan ‘n oorlewingsplek waar hulle moet veg of vlug. Hierdie kinders word dikwels uit hulle huislike omstandighede verwyder en in pleegsorg geplaas waar hulle ‘n kans gegun word om wel ‘n gevoel van geborgenheid te ervaar.

Pleegouers is vir hierdie kinders van onskatbare waarde en skep ‘n veilige en liefdevolle huislike omgewing waar die kinders sonder vrees kan leef en floreer. Roetine, liefde en ‘n gestruktureerde omgewing help kinders om ‘n sin van sekuriteit te ontwikkel.

Kinders wat in pleegsorg geplaas word, het meestal negatiewe ervarings met volwasse verhoudings gehad. Liefdevolle pleegouers help hulle met liefde en versorging om weer vertroue, ‘n goeie selfbeeld en emosionele welstand te ontwikkel. Want wanneer kinders genoeg liefde ontvang en versorg word, leer hulle dat hulle waardevol en belangrik is.

Pleegsorg bied aan kinders wat hulle die nodigste het – ‘n kans om weer geborge te voel. Geborgenheid is noodsaaklik is vir kinders se emosionele en geestelike welstand. Deur hierdie veilige en ondersteunende omgewing te skep, help pleegouers kinders om trauma te verwerk, hulle vertroue in mense te herstel en ‘n toekoms van hoop en stabiliteit te bou.

Langenhoven het gesê: “Die waarde van die koelte is in die warm son rondom hom.”

Dit is die waarde van ‘n pleegouer. Ons sê dankie vir elkeen van julle.

Nadia Kuit

Maatskaplike werker:  Solidariteit Helpende Hand – Bo-Karoo streek

Tel: 066 237 5663

E-pos:  [email protected]