FrouevondsBanner copy 2
FrouevondsBanner copy 3

Begrond in Christus

DIE FROUEVONDS SE AGENDA - IN SAMEWERKING MET DIE BEGROND INSTITUUT

Afrikaanse vroue leef tans onder groot druk. Vir baie Christen-vroue is dit 'n uitdaging om kop te hou. Navorsing toon dat vroue voor spesifieke uitdagings te staan kom. Ons stel voor dat onderliggende probleme deurlopend op 'n opbouende wyse hanteer word.

Die vertrekpunt is dat vroue in verskeie verhoudings staan. Hulle het 'n primêre verbintenis met God as Skepper en Vader wat deur Sy Seun verlossing gee en deur die Heilige Gees 'n vervulde lewe skenk. Uit hierdie verbintenis spruit verhoudings met ander mense, die gemeenskap en werksomgewing voort.

Ons sal die volgende temas oor 'n tydperk van twee jaar bespreek en dit deurentyd aanvul en verbeter:

  • Voluit vrouwees volgens die Bybel

Die mens is na die beeld van God geskep en mans en vroue is beelddraers van God. Hoewel mans en vroue gesamentlike en unieke opdragte van God ontvang het, ontvang hulle dieselfde genade en redding en is daarom gelyk voor God. Ideologieë wat dit teenspreek, word aangetoon.

  • Die vrou se unieke rol en plek in God se werke

Die skeppingsdoel van die vrou en wat die verlossing vir haar vrouwees beteken, word belig. Vryheid en verslawing word in die lig van die Heilige Gees se werk beskou. Die klem val op dankbaarheid wat spruit uit 'n begrip van God se liefde vir die mens.

  • Wanneer doen jy meer as wat God verwag?

Hier val die klem op die eise wat in die huidige samelewing aan vroue gestel word. Die vraag is of die samelewing vroue regverdig behandel. Sinvolle praktiese voorstelle word gemaak. Ondersoek word ingestel om vas te stel satter aspekte persoonlik hanteer kan word en watter sistemies van aard is en gesamentlik aangepak moet word.

  • Wat beteken die Here se opdrag dat die vou aan die man onderdanig moet wees regtig?

Die Bybelse opdrag dat vroue onderdanig moet wees aan hulle eie mans word ondersoek om seker te maak dit word reg verstaan. Daar word ook gekyk na praktiese aspekte van hierdie Bybelse opdrag.

  • Die name van die eerste vroue en wat dit vir vandag beteken

Hier val die klem op die name wat God aan vroue gee en hoe Hy daarmee jou posisie en aansien voor Hom aandui. Die unieke en eervolle benaminge vir vroue in die Skrif word in diepte bespreek. Daar word gewys op die kontras tussen die opbouende, troosvolle en verantwoordelike benaminge vir vroue in die Skrif en die name wat die samelewing en ongelowige wêreld aan vroue gee.

  • Geloof en roeping

Ons gesels oor die Christen se roeping in die algemeen maar ook oor vroue en mans se spesifieke roeping en opdragte. Die ideologie van gelykheid word teenoor die Bybelse siening van unieke rolbesetting voor die aangesig van God gestel.

  • Vroue se verskillende roepings

Die verskil en verband tussen roeping en beroep word bespreek. Die volle implikasies wat die verlossing deur Christus en die heiligmaking deur die Gees vir roepingsvervulling inhou,word bespreek. Verwarring oor verskillende roepings en die grense van roepings word bekyk. Praktiese remediëring word aan die hand gedoen.

  • Geestelike voorbereiding om te trou

Kort en kragtige vrae word gestel om te toets of die besluit om te trou al dan nie op verantwoordelike gronde berus. Dit is 'n kort kursus wat jong vroue met kennis uit die Skrif bemagtig om te besluit of hulle trou-gereedheid is en bereidwillig om te trou. Die Bybelse siening oor wat 'trou' regtig is word gekontrasteer met die verskillende onbybelse sienings oor die saak.

  • "Gelykheid" en "gelykenis" vir die hedendaagse vrou

Die implikasie van die idee dat die vrou ook na die gelykenis van God geskep is, word uitgelig en gekontrasteer met die idee van absolute gelykheid.

  • Die verskil tussen on-vroulikheid en anti-vroulikheid

Christen-vroue het 'n verantwoordelikheid om die beeld van God in hulle lewe uit te straal. Die onderskeid tussen onvroulike optrede en antivroulike sienswyses word bespreek.

  • Diskriminasie teen vroue

Die Bybelse hantering van vroue se verlossing deur Christus, hulle heiligmaking deur die Gees en hulle unieke bydrae tot die samelewing word gekontrasteer met diskriminasie teen vroue en die negatiewe gevolge van radikale feminisme.

  • Vrou, ma, mens: Die balans tussen werk en huis

Die Christen-vrou benut tyd as 'n gawe van God en moet op 'n Bybelse manier 'n balans vind tussen al haar verantwoordelikhede. Dit staan in skrille kontras met die breë samelewing se eise en verwagtinge van vroue.

  • Hoe ondersteun 'n vrou haar man?

Hier word die klem gelê op die onderskeid tussen ondersteuning en waar van 'n vrou verwag word om haar man "te dra". Praktiese voorstelle word aan die hand gedoen.

  • Wat beteken dit om vir jou man te bid?

Ons gesels oor wat gebed is en hoe 'n vrou spesifiek vir haar man en gesin kan bid. Verskeie voorbeelde uit die Skrif word bespreek.

  • Die vrou se rol in die gemeente

Die unieke plek en rol van vroue in die gemeente van Christus word kortliks geskets. Die krag van vroue in die kerk word uitgelig.

  • Die vrou as kroon van die man - wat beteken dit vir vandag

Die vrou se versiering deur die Heilige Gees en die gevare van materialisme en blote uiterlike versiering word bespreek.

  • Hoe leer 'n ma haar seuns om goeie mans te wees?

Die gesamentlike en afsonderlike rolle van man en vrou in die opvoeding word hanteer. Unieke dinge wat slegs die vrou kan oordra word uit die Skrif aangetoon.

  • Wat is die Bybelse waardering vir moederskap?

Die unieke rol van moederskap en die waarde van die erfenis wat die Here deur die geslagte gee word uitgelig.

  • Hoe leer 'n ma haar dogters om goeie vroue te wees?

Bybelse voorbeelde van gelowiges kom ter sprake.

  • Wat beteken dit om 'n God-erende vriendin te wees?

Vriendskap en die gebruik en genieting daarvan het ook 'n geestelike kant. Die waarde en rol van goeie en Godvresende vriendskappe word belig en die gevare van toksiese vriendskappe aangetoon.

  • Hoe hanteer ek skuldgevoelens oor my verskillende rolle en tydsindeling?

Die klem val hier op egte en onegte skuld. Jy moet onderskei tussen skuld voor God en skuld wat die samelewing op jou afgedwing. Christus bevry ons van valse skuld en ons kan ons skuld oor ware oortredings teenoor Christus bely.

  • Hoe hou ek op om my man se werk namens hom te probeer doen?

Praktiese stappe word aan die hand gedoen om die verwarring oor rolle en rolverdeling in die huwelik uit te skakel en weer in orde te kry.

  • Is daar Bybelse riglyne vir manlike en vroulike leierskap?

Christus se hoofskap en die kenmerke daarvan word in verband gebring met die onderskeie rolle van die na en die vrou.

  • Die vrou in die gemeenskap: my mense en my rol

Daar word aangetoon wat 'n vrou se rol in 'n gesonde gemeenskap is en hoe sy haar plek in die gemeenskap kan vol staan.

  • Hoe herstel 'n mens die balans wanneer vroue te hard werk?

Hier val die klem op bevryding deur Christus en die opdrag om te rus. Aandag word spesifiek gegee aan hoe vroue verhinder word om aandag te gee aan hulle werk. Christus se bevryding lei ook tot die herstel en heiliging van werk.