Die impak van armoede op gesinne en kinders

Die impak van armoede strek verder as net die finansiële welstand van gesinne. Dit het ook ‘n impak op gesinsverhoudinge en -dinamika. Dit is so dat gesinne en kinders wat in armoede leef, dikwels beperkte toegang het tot gesondheidsorg, basiese behoeftes en skole. Die spanning waaronder gesinne gebuk gaan as hulle wonder waar hulle volgende bord kos vandaan gaan kom of hoe lank hulle nog die ligte sal kan aanhou, lei tot hoë spanningsvlakke, konflik en misverstande tussen gesinslede.

Een van die gevolge van armoede is dat gesinne dikwels nie net fisies arm is nie, maar ook arm aan moed omdat hulle min of geen hoop of geloof het in hul vermoë om hul omstandighede te verander nie. Gesinne wat in armoede leef, het dikwels min hoop vir die toekoms, omdat hulle nie die nodige hulpbronne of die geleenthede het om hul omstandighede te verbeter nie. Kinders wat in armoede grootword, het dikwels nie die geleentheid om aan ‘n beter toekoms te dink nie. Dit is nie omdat hulle nie die vermoë het om groot drome te droom nie, maar omdat hulle in ‘n omgewing grootword waar die werklikheid van die lewe dit moeilik maak om ‘n hoopvolle toekoms te sien.

Die impak van armoede op gesinne en kinders kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit raak alle aspekte van hul lewe, van fisiese gesondheid tot emosionele welstand, en het ‘n langtermyneffek op hul toekoms. Dit is noodsaaklik dat ons as samelewing besef hoe belangrik dit is om armoede te verlig en diegene wat in armoede leef, te ondersteun. Maatskaplike werkers het die krag om gesinne te bemagtig, maar dit vereis ‘n gesamentlike poging van individue en gemeenskappe om werklike verandering te bewerkstellig. Met samewerking en ‘n holistiese benadering kan ons help om die impak van armoede op gesinne en kinders te verminder en hulle in staat te stel om ‘n beter toekoms te bou.

Chantell van Wijk

Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand