Liewe Leser

Brief 40

In die stil hoekies van ons harte, waar die skaduwees van eensaamheid dikwels groot kan wees, is daar ’n onvervulbare honger na geselskap. Hierdie behoefte aan sielskos lê nie noodwendig net in die verlange om saam met iemand te wees nie, maar eerder om te verstaan en aanvaar te word. Ja, liewe Leser, selfs al is ons sosiale kringe groot, is die moontlikheid dat ons eensaamheid in die teenwoordigheid van ander sal ervaar altyd daar.

Soms gebruik ons die honger na geselskap tot ons voordeel en word dit as ons inspirasie vir liedjies, digkuns en kunswerke. Ons maak kuns daaruit, want dis hoe ons eerlik met onsself kan wees en vir ander die behoefte kan wys waarmee ons sit. Soms het ons iemand nodig wat níks van ons verwag nie en ons toelaat om die menslike emosies op ons eie tyd te ervaar, aanvaar en verwerk. In ’n wêreld waar selfsug, afguns en jaloesie volop is, is dit buitengewoon skaars om hierdie mense te vind.

Die positiewe van al ons kommunikasiekanale, soos briewe, is dat dit die honger effens stil en jou los met die wete dat jy, ten spyte van die lang afstande, nie altyd so alleen is soos wat jy voel nie. Soms is ’n eenvoudige boodskap soos “Ek is hier vir jou” vervullend en meer as genoeg.

Miskien sal dit help as ons aan onsself werk en die mens word na wie ons verlang. Ons hoef nie altyd ’n situasie te verstaan sodat ons kan raad gee nie, want die behoefte lê nie noodwendig in die raad waarvoor niemand gevra het nie, maar eerder in die sekerheid dat iemand vir ons dáár sal wees, ongeag wat ons voel en besluit. Dit help, want dit los ons met die wete dat ons nie alleen is nie en dat die honger saam met die donker net tydelik is.

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5