Liewe Leser
Brief 39
Vandag het ek die voorreg om ’n brief aan jou te skryf met die klank van ’n onbekende trekklavier wat iewers in ons woonbuurt Stille Nag speel terwyl ’n bejaarde man onbeskaamd saam met die deuntjie neurie. Ja, liewe Leser, as ons weer kyk, staan Desembermaand op die drumpel van ons deur. Die son is besig om aanstaltes te maak en die aandster skyn reeds hoog in die lug. Ek het lanklaas ’n dag so vreedsaam afgesluit. Die ou man sing voort…
Stille nag, heilige nag,
oor die veld, lief en sag,
Terwyl hy sing, besluit ek opnuut om die feesliggies in my huis aan te skakel met die hoop dat iemand ook iets moois in die verte sal raaksien. Dit word pikdonker om my en die liggies skyn al hoe helderder. Met die musiek wat speel en die goue lig wat skyn, voel dit amper magies en kan ek nie help om vir ’n rukkie my oë toe te maak terwyl die lig en die musiek my omhels nie.
Ek het al baie donker dae gehad. Jy ook, liewe Leser. Die feit dat ons nog hier is, sê vir my dat Lig altyd ’n manier het om deur ons donkerste dae te breek. Te midde van ons uitdagings en onsekerhede is dit dikwels Lig wat ons hoop gee en vir ons wys dat daar selfs in die moeilikste tye iets moois gevind kan word…
klink die lied van die engelekoor.
eers deur herders, dan verder gehoor
Vanuit ’n metaforiese oogpunt sien ek Lig as die onbaatsugtige liefde en ondersteuning van
ons vriende. Dis ook die teenwoordigheid, veiligheid en sekerheid van die mense wat vir ons
omgee. Ja, liewe Leser, saam met Lig kom daar ’n gevoel van geborgenheid.
So onduidelik soos wat die toekoms mag wees, weet ek dat dit dikwels in die donkerste
oomblikke is wat ons ons ware self ontdek en volharding vind. Interessant genoeg
word lig en duisternis as ’n herhalende tema in literatuur en kuns gebruik. Lig simboliseer
hoop en die oorwinning van die goeie. In verhale is dit so duidelik soos daglig dat daar
selfs in die tyd van wanhoop steeds ’n silwer randjie is – ons moet dit net soek.
Juig, die Redder is daar!
Juig, die Redder is daar!
Hilde
Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
Liedjie insetsels: Halleluja, Lied 36 en 526
