Liewe leser

Brief 38

Aan die begin van die jaar het een van LitNet se artikels my aandag getrek. In grasgroen letters het daar die volgende gestaan: Voortrekker-Afrikaans.

Die skrywer werk aan dokumente van die vroeë Nederlandse Boere-immigrante in die Republiek Natalia

en in die artikel deel hy inligting oor interessante taalkundige verskynsels met sy lesers. Hy verduidelik dat hulle die geleentheid gekry het om briewe wat sowat 170 jaar oud is te digitaliseer en vir navorsers toeganklik te maak. Verbeel jou, liewe Leser, om toegang te kry tot ’n brief wat deur generasies bewaar is vir jou om te lees.

In die artikel gebruik die skrywer Pietermaritzburg as ‘n voorbeeld deur vir ons te wys hoe die Voortrekkers dié naam op verskillende maniere in briewe geskryf het en hy noem dat die onvaste gebruik van klein- en hoofletters vir hom uitgestaan het: Mauritz Burg; Pieter Mouritsburg; Peter maarits burg; Pieter mauretsburg;pieter Maretz Burg; Pieter MaretzBurg.

Dié artikel het my verder laat dink aan die impak wat woorde oor die jare mag hê en dat ons nie die krag van ‘n pen moet onderskat nie. Woorde kan heelmaak en seermaak. Dit kan mense bymekaarbring of skei. Dit kan uitreik en uitnooi. Dit kan hoop gee en dit kan koester. Dit kan geheime hou en dit kan vertroue bou. Woorde kan ook wense wens en stories vertel. So mooi soos wat woorde kan wees, kan dit ook verniel. Dit kan vergiftig en dit kan oneerlik wees. Woorde kan jou verbaas…En dit kan opdroog. Soms is woorde leeg en laat dit jou alleen.

Woorde kan nie teruggetrek word nie en los jou dikwels met letsels. Wat jy met jou woorde maak, kan jou toekoms bepaal. Werk versigtig met jou woorde, want die gebruik van woorde word dikwels onderskat.

Hilde

Helpende Hand

Lees die artikel hier: https://www.litnet.co.za/republiek-natalia-en…/
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5