Liewe Leser

Brief 41

In my kleuterdae het ek, soos baie ander kleuters, nooit daarna uitgesien om my ouers by die kleuterskool te groet nie en het elke totsiens my gewoonlik in trane gelos. Die uitdaging het nie noodwendig in die kleuterskool gelê nie, maar eerder in die tydelike afwesigheid van ’n ouer.

Voor die kleuterskool se deure het daar gewoonlik twee klein eseltjies en houertjies vol aangemaakte poeierverf gereed gestaan vir enige kleuter om te gebruik. My pa het die inisiatief geneem en voorgestel hy sal ’n prentjie saam met my verf, voordat hy werk toe ry. Aangesien ek hom eers in die laatmiddag sou sien, het ek dié geleentheid met altwee hande aangegryp en ingestem. So min soos wat ek van simmetrie geweet het, het my pa my vroeg daarvan geleer deur twee kleurvolle kolle op die helfte van ’n bladsy te verf, die bladsy in die middel toe te vou sodat die nat verf aan die anderkant van die bladsy sou raak en weer oop te maak. Dan het hy ’n streep in die middel getrek en die abstrakte kunswerk ’n skoenlapper genoem. Dit het my gefassineer, want nie twee skoenlappers was dieselfde nie. Mettertyd het ons saam skoenlappers begin maak en het hy my vreedsaam agter die esel gelos en werk toe gegaan.

Wat ek van hierdie mooi herinneringe waardeer, is die vryheid wat my pa vir my op ’n jong ouderdom gegee het. Hy het my geleer om nie binne die lyne in te kleur nie, maar eerder my eie blapse en lyne te maak, sodat ek die prentjie later ’n naam kan gee. As gevolg hiervan kon ek nuwe dinge ontdek en het ek die wêreld vanuit ’n ander oogpunt begin sien.

In ’n wêreld waar ons gereeld in boksies gedruk word en volgens iemand anders se beeld gevorm word, het ons die keuse om uit die boksies te klim en ons gawes sonder grense te gebruik. Om buite die lyne te leef, mag dalk vreemd voel, maar dis juis die onbekende en die ongemak wat ons toelaat om onsself te ontdek en geleenthede raak te sien. So leer ons onsself ken en aanvaar ons dat niemand anders dieselfde as ons is nie.

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5