Liewe Leser

Brief 42

Liewe Leser

As daar een ding is wat my hierdie jaar verbaas het, is dit die onsigbare draad wat mense van reg oor die wêreld met mekaar verbind.

Die eerste brief wat in Suid-Afrika gelaat en deur ’n ontvanger gevind is, is in die 1500’s geskryf deur ’n Portugese ontdekkingsreisiger, Pêro de Ataíde. Hy het hoofsaaklik geskryf oor sy katastrofiese ekspedisie. ’n Hewige storm het veroorsaak dat hul in Mosselbaai moes afklim, nadat die storm hul vloot getref en van die vaartuie vernietig het. Pêro het ’n melkhoutboom gevind, die brief in ’n ou stewel gebêre, en die stewel aan die boom gehang. Dié stewel is in 1501 deur ’n ander reisiger, João, gevind. Sedertdien is die boom as ’n tydelike poskantoor gebruik en is daar briewe onder klippe, potte en in skoene versteek. Vandag is dié boom steeds toeganklik vir besoekers en word dit as die oudste poskantoor in Suid-Afrika bestempel.

Deur die loop van ons eie toer het baie mense vir ons gevra waarom ons briewe skryf en uitdeel. In ’n wêreld waar elektroniese briewe en sosiale media ’n mens dikwels die voorreg van pen en papier ontneem, kan ek verstaan waarom mense die impak van ’n brief in die moderne samelewing onderskat.

Uit ervaring sal ek erken dat ’n brief ons help om te reflekteer voordat ons kies watter van ons gedagtes ons met ander wil deel. Dis ’n uitlaatklep en ’n manier om vir ’n kort rukkie van die moderne wêreld te ontsnap en asem te skep. Ja, liewe Leser, net soos boeke kan ’n brief jou na plekke toe neem en met die soeke na sin help.

’n Brief gee vir ons die geleentheid om die verlede met die hede te verbind en sodoende die vlam van ons taal en kultuur aan die brand te hou. ’n Brief is belangrik, want dit laat ons toe om broos te wees en ’n stukkie van onsself neer te pen. ’n Brief kan ook as ’n kunswerk beskou word en daag ons uit om ’n boodskap kreatief op papier vas te vang. Dit gee vir ons die vryheid om onsself uit te druk en maak dit moontlik om die deure van die diepste deel van ons harte te ontsluit. ’n Brief gee vir ons ’n keuse om met die nodige selfvertroue die kans te waag en die boodskap vir die ontvanger onder ’n klip te bêre met die hoop dat dit ons uiteindelik bymekaar sal bring – selfs al sit ons hoe ver uit mekaar.

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5