“Tannie, hoekom doen jy maatskaplike werk?”

CHARMANAY DE KLERK

Uit die dagboek van ‘n maatskaplike werker: “Tannie, hoekom doen jy maatskaplike werk?”

Ek gesels eendag met ’n 15-jarige dogter oor diep gebeurtenisse in haar lewe. Ons sit in die kamer, nie baie groot nie, waar sy, haar stiefma, stiefpa en boetie van 6 jaar woon. Hulle woon saam met 30 ander mense op een erf. Elke dag van die hand na die mond.

Sy sit op die bed en ek op die vloer, en sy vra: “Tannie, hoekom doen jy maatskaplike werk?”

Ek gee die algemene antwoord: Ek wil graag kinders beskerm en mense help sodat hulle weer op hulle voete kan kom. Sy staar na my en antwoord sarkasties terug. “Oh, ek dink eerlikwaar maatskaplike werkers doen wat hulle doen, want hulle is nuuskierig en hulle hou daarvan om na mense se dramatiese stories te luister.”

Haar woorde laat my as maatskaplike werker weer dink: Hoekom is ek ’n maatskaplike werker?

Die volgende Bybelverse kom in my gedagtes op:

  • “Julle is die sout van die aarde.” – Matteus 5:13
  • “Julle is die lig vir die wêreld.” – Matteus 5:14

Ek dink terug aan ’n preek van my pastoor en vra myself af wat sout en lig in gemeen het. Die Here het dit so goed gekies, want beide kan hul omgewing verander. Sout gee immers smaak aan kos en lig verbreek donkerte.

Ek gaan soek weer die definisie van maatskaplike werk en lees die volgende:  

“Maatskaplike werk is ’n dinamiese beroep wat sosiale verandering, probleemoplossing in menseverhoudings en die bemagtiging en bevryding van mense bevorder om holistiese welstand te bevorder. Maatskaplike werkers gryp in by die punte waar mense met hul omgewings interaksie het.”

Ek besef net weer: So baie van my kliënte het hul sout se smaak verloor en hulle lig onder ’n emmer geplaas. Ek as maatskaplike werker wil hulle ondersteun met Goddelike lig en sout sodat hulle die liefde, vrede en vreugde van die Here kan ervaar. Ek wil kliënte bemagtig met vaardighede, kennis en vermoëns sodat hulle weer vreesloos hul omgewing kan verlig en smaak daarin terugplaas.