Uit die dagboek van ‘n maatskaplike werker: Maak ek ‘n verskil?

Marna Swanepoel

Uit die dagboek van ‘n maatskaplike werker: Maak ek ‘n verskil?

My ouma het altyd gesê: “Elke klein druppeltjie tel …” Jare daarna wonder ek nog steeds elke aand as ek in die bed klim: Tel my druppeltjie? Maak EK ’n verskil in iemand se lewe?

Jare gaan verby, en snags bly spook hierdie vraag by my. Op ’n dag kruis my pad met ’n op die oog af doodgewone tienerdogter, maar dadelik kom ek agter sy is anders. Sy is ’n tienerdogter wat deur haar omstandighede gedwing word om te vlug van haar moeder wat verlief is op mnr. Bottel en sy ken nie eens haar vader se naam nie. Sy vlug na waar sy dink daar vrede en geluk is … Hoe hartseer is dit nie dat sy die skoolbanke vir kroegstoeltjies verruil het sodat sy in die oggendure vir haar hulpelose moeder en sibbe ’n geldjie kan neem. Dis nou te sê as sy nie uitgesluit word en noodgedwonge ’n slaapplekkie vir die nag moet soek nie, maak nie saak waar of by wie nie. So gaan dae en weke verby wat sy skool mis net omdat sy doodeenvoudig te moeg is om skool toe te gaan. Niemand lig ’n wenkbrou nie. Sy kry net raas omdat “gisteraand se geldjie bietjie min was” en mnr Bottel al hoe duurder word …

Die dogter se storie laat ’n knop in my keel en ’n letsel in my maatskaplikewerkershart. Ek dink by myself: Wat as hierdie my verhaal was? Ek is weer opnuut dankbaar vir my omstandighede en my kinderjare, en ek besef: Hierdie kind het meer nodig as ’n kospakkie en ’n geldjie in die hand. My instink om te help, “verbande op hierdie kind se wonde te sit” skop in. Hoe gaan ek haar help? Ek wonder …

Op ’n dag kom die ou siel in hierdie kind met ’n antwoord: “Tannie Welsyn, ek wil teruggaan skool toe. Ek wil koshuis toe.” Ek besef weereens hoe desperaat hierdie kind moet wees om weg te kom van haar omstandighede, haar bloedeie mense wat haar so seermaak dat sy skool en koshuis as haar enigste uitweg sien.

Ek skuif my fokus weg van ’n sisteem wat haar gefaal het na ’n gemeenskap wat ’n kind, hiérdie kind, kan red. Helpende Hand en die gemeenskap steek saam hande uit om haar te vang.

Vandag, ’n paar maande later, is hierdie besonderse tiener hoofdogter van haar koshuis en amper klaar met haar skoolloopbaan. Na jare vind ek én sy geluk en vrede.

Partykeer, net soms, kry ons ons antwoorde op die vreemdste plekke … Ons is daar waar ons MOET wees.

Ek het lank gewonder, maar nou weet ek: Ek maak ’n verskil!