Uit die dagboek van ’n maatskaplike werker: Die wêreld binne my

Uit die dagboek van ’n maatskaplike werker: Die wêreld binne my

Bianca Steyn

Die Afrikaanse groep Spoegwolf se liedjie, Voel jy dit ook?, voel of dit vir ons as maatskaplike werkers geskryf is. Die woorde pas ons beroep soos ‘n handskoen. Musiek, nes foto’s, spreek boekdele en met die lirieke van die liedjie gaan ek probeer om die gevoel van ‘n maatskaplike werker se plig en roeping oor te dra.

Voel jy dit ook? Sien jy dit ook? Waar jy gaan. Al die seer?

In al die rook is dit ons wat saam deur die skemer brand. Soos Spoegwolf se lirieke lui: “Ons word soos brode gebreek om ander te dien.” Ons planne het verander. Alles wat ons doen, is vir die veiligheid van onskatbare onskuld. Vir jou. Vir julle. Julle is ons almal se kinders. Ons het die donker leer ken en die glinstering van die maan gegroet. Ons knip ons oë en weet: Ons sal hierdeur kom. Saam… Ons ore sien en ons oë hoor. Vir jou, kleine ding daar buite in die tuin van gesteelde blomme. Ons kom. Ons is altyd op pad, want ons voel dit saam.

Ons roep uit. Ons skreeu. Vir beter. Vir liefde. Vir lag. Vir hoop. Ons het nie tot hier gekom om op te gee nie. Ons is anders aanmekaargesit. ’n Ander soort mens. ’n Ek- en jou-mens. Voel jy dit ook? Al die seer? Dit is in ons gegraveer. Ons sal dit altyd voel. Maatskaplike werk. Wat kan ek sê? Daar is niks soos hierdie beroep nie. Min sal die diepte van hierdie twee woorde verstaan: maatskaplike werk. Ons goue draad is ons Vader wat ons seën met die moed om te voel en die moed om werklik te sien. Geroepe voetsoldate. Ons staan op aandag. Ons is gereed. Ons is maatskaplike werkers. Ja, maatskaplike werkers.

Voel jy dit ook? Al die hoop? Welkom. Welkom by die maatskaplikewerkfamilie.

Hier is hul musiekvideo en inspirasie vir die skryfstuk: