Uit die dagboek van ’n maatskaplike werker: Hier’s my hand.

Carol Ankiewicz

Uit die dagboek van ’n maatskaplike werker: Hier’s my hand.

As maatskaplike werker het jy die voorreg om eerstehands te beleef hoe mense hul lewe kan omdraai en ’n beter toekoms vir hulself bou. Jy is ook betrokke by die wonderwerk van gemeenskapskrag.

Onlangs het ek die voorreg gehad om werklik die krag van ’n gemeenskap wat saamstaan te beleef.

Tannie Sarie is ’n 80-jarige tannie wat in ’n klein dorp woon. Sy het geen band met haar familie nie en leef in eensaamheid in haar huisie sonder krag en water. Ons het die voorreg gehad om paaie met haar te kruis en ons vrywilligers in die gemeenskap het haar begin ondersteun. Ons kon wel nie haar reuseskuld aan die munisipaliteit vereffen nie, maar ons kon by haar kuier en met haar aktiwiteit doen wat haar lewensgehalte verryk. In die begin was tannie Sarie konstant negatief as gevolg van die druk van haar omstandighede; sy het gesukkel om die hoop raak te sien. As jy vandag met tannie Sarie gesels, is dankbaarheid die eerste ding waaroor sy praat. Sy het weer besef dat sy self ook ’n verantwoordelikheid in haar gemeenskap het en gee weekliks iets kleins uit haar tuin soos vrugte, of haar raad aan een van ons vrywilligers wat by haar kuier.

Gemeenskapskrag het verseker dat tannie Sarie weer behoort, dat sy weer in ’n doel glo en weet dat sy selfs op haar oudag steeds waarde tot haar gemeenskap toevoeg.

In ’n studie wat Helpende Hand in 2022 gedoen het, is bevind dat minstens 43% van die 435 bejaardes wat aan die studie deelgeneem het ’n gevoel van eensaamheid ervaar. Ook het 20% soms ’n gebrek aan ondersteuning, 40% beleef depressie en 36% beleef angsgevoelens.

Daarom nooi ek jou uit: Gaan drink daai koppie koffie by die oom of tannie; gaan kuier by die tehuis vir bejaardes en smeer hulle hande met room, maak oogkontak en gaan stap saam met hulle in die tuin. Helpende Hand het ‘n Seniors-in-aksie program waarvan jy deel kan raak. Hier kan jy nog baie ander aktiwiteite leer wat ‘n verskil in die lewe van ‘n bejaarde kan maak. Deur jou plekkie in jou gemeenskap vol te staan, kan jy help om hierdie statistieke te verlaag. Jy is deel van gemeenskapskrag.